Dit het beslis die bewusmaking van herwinning na nuwe hoogtes geneem." So het Libere Stigting se koördineerder van die 2013 Ontwerp vir Werk-kompetisie, Elna Pretorius, tydens die prysuitdeling en uitstalling van die kompetisie gesê. Die kompetisie is op Woensdag, 6 November in Kwagga Cuisine by Hoërskool Outeniqua gehou.
Die produkte van 56 finaliste van agt skole is aan ouers, gaste en die media bekendgestel. Die 2013-wenners van die kompetisie is aangekondig. Yolande Taljaard van Hoërskool Oudtshoorn is as die wenner van die senior-afdeling, met 'n houtstoel aangewys en Liezl Lamprecht (junior-afdeling) is in die tweede plek met 'n tafel waarop daar 'n
Union Jack-vlagontwerp pryk. Alrike Piek het die derde plek in die senior-afdeling verower en Ruben Coetzer is die wenner van die gr. 4 tot 5-afdeling.
Die tweede plek in die senior-afdeling is deur Bianka Lingenfelder van Hoërskool Outeniqua verower. Die wenner van die junior-afdeling (gr 6-9) is van Punt Hoërskool: Alika Terblanche, terwyl Teagan Mckenna en Chanté Hoffeldt saam die derde plek verower het.
Libere het ook dekorpryse aan Zarco de Beer van Hoërskool Outeniqua, Rhodé Ferreira van Blanco Laerskool, Kristi Gouws van Hoërskool Outeniqua en Mia Clark van Blanco Laerskool toegeken, asook 'n juweliersware-prys aan Margo Viljoen van Blanco Laerskool.
Die uitstalling het 'n hanglamp van volstruisleer, 'n drasak van karton, lampe van plastiese lepels sowel as 'n skaakspel van plastiese flesse ingesluit. Die Libere Stigting het aan verskeie nasionale en internasionale uitstallings insluitend Sarcda Internasionale Handelskou by Gallagher Estate, Design Indaba in Kaapstad, Homemakers Expo en Decorex in Kaapstad, deelgeneem. Van Libere se produkte wat deur 'n groep vroue van Blanco onder die leiding van Rose Barnardo vervaardig word, is vanjaar uitgestal en verkoop by die Birmingham Spring Fair en die Maison et Objet in Parys. Die produkte van die groep is ook na Australië uitgevoer.
Talle van die artikels is bruikbaar en Libere nooi organisasies om hulle te kontak indien hulle van die produkte wil vervaardig. Daar word 'n kontrak met die leerders gesluit waar hulle vyf persent kommissie verdien op elke produk wat verkoop word. Daar is reeds produkte wat ingevolge dié ooreenkoms vervaardig word. Libere benodig borge vir die pryse en soms vir praktiese dinge, soos petrol vir die bussie wat Thembalethu-leerders na die skool vir ontwerp bring vir opleiding.
Volgens Pretorius is dit die talentvolle kinders en inspirerende onderwysers wat die kompetisie aan die gang hou en laat groei. "Die produkte word net elke jaar beter en elke produk kan 'n verskil maak. Dit is baie belangrik dat ons die jeug wys ons glo in hulle - dit is ons kinders wat die enorme probleme waarmee ons nou sit, sal moet oplos. As ons nie die kreatiewe probleemoplossende jongmense koester en respekteer nie, beland hulle in beroepe waar hulle gefrustreerd en glad nie produktief is nie. Kreatiewe industrieë is vinnig besig om oral oor die wêreld die grootste werkskeppers te word."
Sien nog foto's hier.

Die wenners en finaliste van vanjaar se Libere Stigting se 2013 Ontwerp vir Werk-kompetisie het die applous en bewondering van ouers, die media en ander belangstellendes vir hul kleurvolle en vernuftige-ontwerpte produkte, geniet. Dit is als uit afvalstowwe gemaak.
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'