Update
GEORGE NUUS - Hulle harte is seer, want hulle het 'n ma verloor. Dit is die rede waarom meer as 100 leerders verlede Vrydag, 26 Januarie, voor die hekke van George High vir die heraanstel van Mary-Anne Petersen betoog het.
Sommer knap na 08:00 het die eerste boodskappe deurgekom: daar is chaos by George High. Leerders van alle grade, maar veral die hoër grade, betoog met plakkate wat vra vir "Ant Merry" se terugkeer na die skool. Hulle vereis ook dat die skoolhoof, Rodney Cupido, in die pad gesteek word.
'n Video waarin hulle haar terugkeer vereis en betoog voor die skool, het meer as 100 000 mense op George Herald se Instagram-platform bereik.
Petersen is die afgelope nege jaar by George High werksaam as sekerheidsbeampte in 'n beheerliggaampos. Sy is in November verlede jaar skriftelik in kennis gestel dat haar kontrak nie hernu gaan word nie.
In Oktober verlede jaar het Petersen wel 'n departementele pos van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) ontvang, as koshuishulp. Sy woon fisies in die koshuis en help met 'n verskeidenheid van takies.
Volgens Petersen was sy wel bewus van die feit dat sy nie meer by die skool self werksaam is nie, maar net by die koshuis. Sy beweer dit was oor haar hegte band met die matrieks van verlede jaar wat sy vrywillig gaan help het toe hul uitslae op 19 Januarie aan die skool bekendgemaak is.
"Ouers en kinders het my gevra om te help. Dit was vir my 'n eer," het sy gesê. "Ek het nog altyd met sulke dingetjies gehelp. Ek is die een wat die siek kinders versorg, wat pleisters plak, en help met afrolwerk."
Hierdie energieke leerders maak hul stemme verlede Vrydag dik.
Later dieselfde dag het sy egter 'n brief van die skool se beheerliggaam ontvang wat haar toegang tot die skoolgrond in 'n werksame hoedanigheid verbied, en is sy meegedeel dat die polisie se hulp genader sal word indien sy oortree.
"Dit was vir my baie verwarrend, want ek woon en werk dan in die koshuis, wat ook op die skoolgronde is," het Petersen gesê. "Ek het die brief by die skool gelees, en was natuurlik emosioneel.
"Ek het 'n bietjie gehuil. Van die seuns, wat baie erg oor my is want ek is soos 'n ma vir hulle, het dit gesien. Hulle het besluit om op te tree."
Koshuispos is veilig
Terugvoer van die WKOD dui daarop dat hulle uit die veld geslaan is oor die kinders se ongelukkigheid, want sy is steeds in haar departementele pos.
"Me. Petersen is in diens van die WKOD. Sy is verlede termyn in 'n kontrakpos as 'n ondersteuningspersoneel-werknemer aangestel. Sy was voorheen 'n SBL-werknemer by die skool. Bewerings dat sy afgedank is, is onwaar. Sy het verblyfvoorregte in die koshuis," het die departement se woordvoerder, Bronagh Hammond, gesê.
"Daar was vier ondersteuningspersoneel wat nie hul kontrak hernu het nadat dit verstryk het nie. Hulle is ses weke kennis gegee dat dit nie hernu sou word nie."
Op 'n vraag of die leerders oor hul betoging tugaksie kan verwag, het Hammond gesê die skoolhoof (Rodney Cupido) het wel na die hek van die skool gegaan en leerders gewaarsku dat daar tugstappe sal wees as hulle nie binne die skool voortgaan nie. "Dit was 'n beweerde waarskuwing," het Hammond gesê. Op die dag van die betoging wou Cupido geen kommentaar lewer nie. Volgens 'n betroubare bron is die kinders egter nie geskors nie.
"Die WKOD is in gesprek met die skool en doen 'n beroep op kalmte," het Hammond gesê. "Dit is nie duidelik hoekom me. Petersen beweer dat sy afgedank is nie."
George Herald het die brief wat die emosionele uitwerking op Petersen gehad het vir hulle woordvoerder aangestuur. Die departement het nie kommentaar oor die brief gestuur nie.
Let wel: Petersen se kontrak met die skool se beheerliggaam is nie hernu nie; sy behou egter steeds haar departementele pos as koshuishulp.
Vorige artikel: Chaos by George High na Ant Merry in die pad gesteek is
Die leerders neem hul betoging verder in die straat af, voor George High. "Nee tannie, ons gaan nie hoor nie," het die een leerder vir George Herald gesê op 'n vraag of hulle nie lus het om huis toe te gaan nie.
Skoolhoof Rodney Cupido (links) hou die situasie buite die skoolhekke dop saam met die polisie en ander belanghebbendes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’