Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Laerskool Outeniqua se gr. 7-leerders het ook besluit om die Jerusalema aan te pak. Die tweede kwartaal van 2020 het op omstrede wyse eers op die 1ste dag van Junie begin, met al die reëls in plek om Covid-19 die hoof te bied.
Dit was gou duidelik dat die leerders van Laerskool Outeniqua nie hierdie virus ligtelik opneem nie. Tog was die frustrasie van sosiale afstand, sanitasie en geen kultuur en sportaktiwiteite duidelik by die seuns en dogters sigbaar.
Charl Kitching, lewensoriënteringonderwyser, sê dat met die aanbreek van die derde kwartaal was die nuus vanaf lewensoriënteringadviseur van die Wes-Kaapse depratement van onderwys dat daar wel met LO voortgegaan kan word, maar dat alle reëls ten opsigte van die voorkoming van die virus steeds gevolg moet word.
"Gewoonlik vir derde kwartaal assessering moet gr. 7-leerder aan bewegingsprestasie van die volgorde van fisiese aktiwiteite, insluitend rotasie, balans, hoogte en ritmiese bewegings deelneem wat tot gevolg het dat Laerskool Outeniqua se seuns en dogters dan leer om te wals, langarm ensovoorts.
Fotogalery: Laerskool Outeniqua doen die Jerusalema
"Met sosiale afstand wat steeds deel was van die prentjie was hierdie ook nie in 2020 vir die leerders beskore nie. Na ‘n paar gesprekke om die koffiepot het die idee ontstaan om die gewilde Jerusalema-dansuitdaging aan te leer.
"Dit maak ook deel uit van die leerders se formele assessering vir lewensoriëntering in die derde kwartaal en bied ook die geleentheid om lekker skoon en vars lug in te asem asook so bietjie glimlag en ligter oomblikke."
Die gr. 7's van Laerskool Outeniqua het reeds in die middel van Augustus begin om die danspassies aan te leer en het sommer vinnig die ritme begin kry. Mnr. Kitching gaan voort, "Aangesien die gr. 7-leerders soveel toere, kampe en herinneringe as gevolg van die pandemie gemis het, was daar ‘n behoefte om iets spesiaals vir hulle te doen en daarom is besluit om die opname van die dans te doen en die skool kon aan niemand beter dink as Wessel van Heerden, joernalis van George Herald om daarmee hand by te sit nie.
"Wessel se vermoë en die ywerige Outies was ‘n droomkombinasie en die projek kon nie vir ‘n beter einde gevra het nie."
Die opname van die video het oor twee afsonderlike dae geskied omdat die gr. 7-klas geroteer word oor twee dae weens Covid-19. Op die video is die twee groepe saamgevoeg maar kan onderskei word deur die verskillende kleur rame.
Kyk die video hieronder:
Die gr. 7-personeel het besluit om die opname aan hul aftredende skoolhoof, mnr. Johan Smit op te dra. ‘n Man wat sy lewe aan die onderwys in George toegewy het en op soveel gebiede ‘n onbaatsugtige diens gelewer het.
Die gevoel was dat hy vir soveel leerders en opvoeders geleenthede gegun het en dat hierdie klein huldeblyk net ‘n druppel in die emmer is in vergelyking met sy bydrae tot Laerskool Outeniqua se sukses die laaste 16 jaar.
Die gr. 7-leerders het ook in moeilike tye vir ons gewys dat hulle oor ongelooflike goeie karakter beskik en het die skool, sy onderwysers en ouers verras met hulle toegewydheid, dissipline, respek en probleemoplossing. "Julle is voorwaar ons trots."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'