GEORGE NUUS - Janique Gerber, 'n matrikulant van Hoekwil, is in die wolke nadat sy as een van die 15 finaliste aangewys is in die 2018 Mej. Hoërskool 2018-kompetisie wat deur GEES! Entertainment aangebied word.
Die finaliste is deur middel van 'n stemproses deur die publiek aangewys. Janique het almal bedank wat haar met hul stemme ondersteun het. "Aan ons gemeenskap, al my vriende en medeskoliere, dankie vir julle ondersteuning," het sy in 'n teksboodskap gesê.
Die eindronde vind op 1 Desember in Johannesburg plaas en haar ondersteuners het tot 30 November tyd om vir haar te stem.
Intussen, te midde van haar matriekeksamen, wat Dinsdag afgeskop het, is dié lewenslustige hoofmeisie van Hoërskool Langenhoven in Riversdal besig met ses gemeenskapsprojekte waardeur sy ander kinders wil help:
- 'n Boekinsameling vir Seven Passes Initiative se leer- en leesprogram;
- Insameling van skryfbehoeftepakkette vir 10 behoeftige gr. R-leerders van Touwsranten Primêr;
- 'n Tassieprojek vir vyf gr. 1-leerders van Touwsranten wat gr. 2 toe gaan;
- 'n 'Toys for Tots'-projek om speelgoed in te samel vir die kinders van Sonneblom-crèche in Hoekwil;
- Insameling van kosprodukte vir Little Lancers, die sopkombuis by Lancewood wat deur ses vrywilligers bestuur word;
- Insameling van kosprodukte saam met haar skool vir Sally se Sopkombuis in Riversdal wat behoeftige kinders en bejaardes voed;
- Pikkanini Art - 'n kunsprojek waardeur sy saam met kinders van Hoekwil-preprimêr kuns skep wat as klasversierings geskenk gaan word aan Carol's Play School in Riversdal.
Janique Gerber (regs) saam met die kleuters van Hoekwil-preprimêr wat deur die kunsprojek, Pikkanini Art, kunswerke skep vir Carol's Play School in Riversdal.
Janique se ywer om ander se lewens te help verbeter is aansteeklik. Sy is ook passievol oor gesond lewe en geniet hokkie en alles wat met skoonheid en mode te doen het. Sy is bekend onder haar portuurgroep as 'n positiewe rolmodel.
Haar leuse is om net jouself te wees."Net 'n vriendelike versoek aan almal om vir 'n laaste keer vir my te stem om die kroon huis toe te kan bring," sê sy. Mense kan vir haar stem deur GEES MHS JANIQUE te SMS na 37587 of deur die Miss High School SA Face- bookblad asook haar foto op die blad te 'like' (die twee 'likes' tel vir een stem).
Mense wat donasies vir Janique se projekte wil gee, kan haar ma, Janene bel by 084 621 0313. Janique bedank The Media Box, Danrick-boerdery en Pine Lake Marina Lodge vir hul borgskappe.
Die sonnige skildery wat op 'n muur by Carol's Play School gaan pryk.
Lees 'n vorige artikel hier: Hoekwil girl named Miss High School semin-finalist
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'