GEORGE NUUS - Die tonge is los en hulp is selfs uit sakegeledere aangebied nadat dit amptelik bekend geword het dat die George-munisipaliteit 'n gekwalifiseerde oudit vir die boekjaar 2017/2018 ontvang het.
George Herald het al reeds op 7 Februarie vanjaar berig dat 'n gekwalifiseerde oudit George se voorland is.
In die ouditeur-generaal (OG) se voorlopige verslag onder die hofie "interne kontrole tekortkominge" het die OG gesê hy neem kennis van die betrokkenheid van artikel 80 komitees by tenderprosesse. Dit en ander tekortkominge wat die OG uitgewys het, het vroeg in Februarie tot 'n hewige debat in die raad gelei.
Kommer bestaan nou dat George op die afdraande pad is, want hy het in die 2016/17 boekjaar 'n skoon oudit ontvang.
Die ouditeur-generaal, Kimi Makwethu, het verlede week sy verslag oor die stand van bestuur en geldsake van munisipaliteite landswyd bekendgemaak. George is onder drie Wes-Kaapse munisipaliteite wat gekwalifiseerde oudits ontvang het. Die ander twee is Beaufort-Wes en Oudtshoorn.
Ingeligtes het gesê die jongste gebeure beteken nie George boer agteruit nie. Dis blykbaar eerder 'n kwessie van die korrekte prosedures wat nie altyd gevolg is nie. Nie almal stem egter heeltemal hiermee saam nie.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, het na aanleiding van die jongste gebeure gesê die sakekamer is bereid om te help waar hy kan.
Die ANC, die amptelike opposisie in die stadsraad, het by monde van sy voorsitter in George, Darryll Sauer, gesê dit is rede tot erge kommer dat George nie 'n skoon oudit ontvang het nie.
Farrel het gesê die sakekamer het kennis geneem van die verslag. Dit blyk dat daar dinge is waaraan aandag gegee moet word en die sakekamer gaan vra dat dit reggestel word.
Farrel ontmoet aanstaande week die munisipaliteit en daar sal oor die pad vorentoe gepraat word. Volgens hom is die sakekamer bereid om te help waar hy kan. Dit is in almal se belang. "Ons wil pro-aktief optree."
Dis wel waar dat die munisipaliteit uit 'n ouditverslag oogpunt swakker gevaar het. Hy het bygevoeg: Dis een ding om 'n gekwalifiseerde oudit te ontvang. Dit sou die verkeerde boodskap uitstuur as daar nie opgetree word nie.
Die ANC het in 'n sterk bewoorde verklaring gesê die bekendmaking van die OG se verslag dat George nie 'n skoon oudit ontvang het nie, is rede tot erge kommer vir die inwoners en veral belastingbetalers van George.
Lees die volledige verklaring.
Gebeure word uitgelig wat nie net 'n negatiewe uitwerking op die inwoners het nie, maar ook op moontlike beleggers.
Dit sluit in:
- Die swaard van beweerde korrupsie/bedrog wat oor die huidige burgemeester hang;
- Die beweerde wederregtelike belegging van honderde miljoene rande waarvoor die munisipale bestuurder klagtes aanhangig gemaak het by die polisie;
- Die betaling van miljoene rande jaarliks weens oortydbetalings;
- Die aanstelling van persone sonder matriek op senior vlak. Dit laat vrae ontstaan oor die kriteria wat gevolg word met aanstellings en of aanstellings volgens prosedure gedoen was;
- Die verhogings van tariewe vir water, elektrisiteit, sanitasie en belasting van 1 Julie;
- Probleme rakende die Go George-vervoerstelsel;
- Swak dienslewering rakende die bou van paaie waarby miljoene rande betrokke is;
- Die verkoop van munisipale grond aan ontwikkelaars vir behuising terwyl daar 'n behuisingsnood in George is.
Die ANC vra die DA, wat in beheer van die stadsraad is, om inwoners eerste te stel.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van George-sakekamer. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'