Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hoewel Jan Publiek kennelik voel dat daar iets daadwerkliks aan die berugte Voëlklip-pad gedoen moet word om dit te beveilig, of dit selfs toe te maak, is daar nog geen sulke sprake vir die onmiddellike toekoms nie.
Die afgelope week is daar egter verkennende gesprekke deur verskeie rolspelers gevoer. Dit word aanstaande week voortgesit.
Talle mense sê die pad moet toegemaak word, maar hengelaars, natuurliefhebbers en inwoners van Heroldsbaai stem nie saam met dié versoek nie.
Dit volg na die jongste tragedie waarin 'n ma (34) met haar twee kinders, (2 en 8) by 'n krans op die Voëlklip-pad afgery het.
Die seun (8) is op 'n onverklaarbare manier uit die voertuig geslinger voor dit by die krans afgetuimel het. Hy is sowat 2 km van die toneel af deur 'n motoris, Anton Gerber (67), gevind wat die polisie ontbied het.
Die seuntjie is met matige beserings na die hospitaal geneem. Hy is sedertdien ontslaan en in die sorg van sy pa geplaas.
Kyk 'n video hieronder:
Die ma se liggaam is kort na die voorval in die water gevind, maar teen gisteroggend, 27 Januarie, was daar nog geen teken van die tweejarige dogtertjie se liggaam nie. Teen druktyd het die polisie nog nie toestemming van die pa ontvang om sy gesin se identiteite bekend te maak nie.
Verskeie gesprekke het die afgelope week tussen rolspelers plaasgevind oor die toekoms van die pad na die berugte Voëlklip-uitkykpunt by Heroldsbaai. Dit kom na nog 'n tragedie waarin 'n jong ma en haar kleuter in hul motor by 'n krans langs die pad afgestort het. Talle mense sê die pad moet toegemaak word, maar hengelaars, natuurliefhebbers en inwoners van Heroldsbaai stem nie saam nie.
Vergaderings oor die pad vorentoe
Volgens Ken Field, voorsitter van Heroldsbaai se huiseienaarsvereniging, sou hulle Maandag 25 Januarie 'n vergadering met die provinsiale regering gehad het. Dit is egter uitgestel omdat lede van die hoofkantoor in die Kaap ook die vergadering wil bywoon.
"Padtekens is reeds drie maande gelede opgesit in 'n poging om die pad te beveilig," sê Field. Hy sê dit sou vroeër gebeur het, maar die proses is weens die inperking vertraag. Die datum van die volgende vergadering moet nog bevestig word.
Fotogalery: Voëlklip pad - moet dit toegemaak word?
Nooddienste en reddingswerkers op die toneel verlede Donderdag. Foto: Kristy Kolberg
Mosie dien voor raad
In Desember 2019 het die wyksraadslid van die gebied, Johan Stander, 'n dringende mosie rakende die veiligheid van die Voëlklip-pad ter tafel gelê.
Die mosie is deur die raad aanvaar en aan die munisipale administrasie oorhandig om met al die betrokke partye te bespreek.
In terugvoer op 'n navraag verduidelik woordvoerder van George-munisipaliteit, Chantel Edwards-Klose, dat die betrokke stuk grond privaat eiendom is en dat die grondpad aan die departement van vervoer en openbare werke behoort. Dit is dus nie onder die plaaslike munisipaliteit se jurisdiksie nie.
Jandré Bakker, woordvoerder vir die departement van vervoer en openbare werke, het vroeër die week bevestig dat 'n ter plaatse ondersoek sou plaasvind.
"Ons vergader vandag op die terrein met die George-munisipaliteit, omgewingsake, die eienaar van die grond asook die belastingbetalersvereniging," het hy Dinsdagoggend gesê.
Teen druktyd was die uitslag van die vergadering nog nie bekend nie.
Nooddienste en reddingswerkers het verlede Donderdag die Voëklip-omgewing gefynkam vir tekens van lewe.
Sewe dood sedert Oktober 2019
Sedert Oktober 2019 het sewe mense, waaronder drie kinders, hul lewens op die Voëlklip-pad verloor.
Ná Heidi Scheepers (35) en haar twee kinders, Cozette (6) en Hugo (2) oor die krans by Hansie se bank, sowat 1 km voor die Voëlklip-uitkykpunt afgestort het, het Zonita Basson (52) in haar rooi Cheverolet Spark op Dinsdag 3 Desember by Voëlklip afgery.
Kort daarna, op 29 Januarie 2020, is 'n sakeman van Port Elizabeth in 'n wit Ford Ecosport, ook by die krans af.
Die noodhelikopter was deel van die soekspan.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'