Update
GEORGE NUUS - Voëlklip naby Heroldsbaai was weer die toneel van ‘n tragedie. Zonita Basson (52), algemeen bekend as Zoe, het Dinsdagaand gesterf toe haar motor, ‘n rooi Chevrolet Spark, aan die oostelike kant van Voëlklip by die uitkykpunt in die see beland het.
Geen gemene spel word vermoed nie.
Basson het in Denneoord gewoon en in die versekeringsbedryf in George gewerk. Sy word oorleef deur ‘n seun en ‘n dogter.
Basson se liggaam is Woensdagoggend vroeg deur polisieduikers uit die see gehaal waar dit buite die voertuig gedryf het.
Die voertuig was nie sigbaar van die uitkykpunt nie.
Zonita Basson
Die jongste voorval was minder as 2 km van waar ‘n gesinstragedie op 22 Oktober plaasgevind het. ‘n Jong ma, Heidi Scheepers (35) en haar twee kinders, Hugo (2) en Cozette (6) het toe gesterf. Die volgende dag is die voertuig, ‘n VW Caravelle, waarin Heidi en die kinders gery het, in die see aan die voet van ‘n kloof in die Voëlklip-area gevind.
Heidi en Hugo se liggame is later uit die see gehaal, maar daar is tot vandag toe nog geen teken van Cozette nie.
Meer besonderhede oor die jongste voorval het vroeg gisteroggend, Woensdag 4 Desember, bekend geword.
Verskeie lesers van die George Herald het die koerant gekontak nadat hulle reddingswerkers in die gebied gesien het.
Aanvanklik was die uitkykpunt by Voëlklip Woensdagoggend vir die publiek gesluit, maar dit is later weer oopgestel. Die spore van die motor waar dit oor die afgrond gestort het, was duidelik sigbaar in die sand.
Daar het dele van die voertuig gelê wat vermoedelik afgebreek het toe dit oor die afgrond is.
Dele van die voertuig. Foto: Wessel van Heerden
‘n Sekerheidswag van Suiderkruis Security, Solly Sonwabo, het vertel dat hy Woensdagoggend 05:45 by die toneel aangekom het. Mense het hom gevra om ondersoek in te stel.
Daar was verskeie reddingsvoertuie en die nommerplaat van die voertuig het eenkant gelê. Louhan Stanvliet, ‘n inwoner van Heroldsbaai, het vertel dat hy Dinsdagaand omstreeks 22:30 baie ligte aan die bo-kant van Voëlklip gesien het. Dit het later gelyk of mense die see fynkam.
Polisiebeamptes en reddingswerkers Woensdagoggend op die toneel by Voëlklip. Foto: Eugene Gunning
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het vertel dat ‘n inwoner van Heroldsbaai die polisie Dinsdagaand omstreeks 21:30 laat weet het dat hy ‘n voertuig, waarvan die ligte aangeskakel was, teen die krans by Voëlklip sien afry het.
‘n Soekgeselskap, bestaande uit die polisie, Metro-nooddienste en die NSRI is inderhaas na die toneel.
Polisieduikers het daarna in die see begin soek. Die soektog is deur die nag voortgesit en soektoestande was nie gunstig nie.
Teen ligdag is die drywende liggaam van ‘n vrou in die see gesien en uitgehaal. Volgens Spies word ‘n geregtelike doodsondersoek gedoen. In die stadium is dit nie moontlik om die voertuig te herwin nie.
Die oorledene se identiteit is nie deur die polisie bekendgemaak nie. George Herald het met haar seun gepraat.
Enigiemand wat iets gesien het en die polisie in hul ondersoek kan help, kan 044 803 4713 skakel.
Wat kan gedoen word?
Marius Swart wat al meer as 30 jaar in die gebied woon het gesê dis ‘n privaat pad. Die munisipaliteit kan nie geld daar bestee nie. Sy voorstel is dat die munisipaliteit geld beskikbaar stel aan ‘n belastingbetalersvereniging. Die vereniging kan weer reël dat byvoorbeeld versperrings langs die kante aangebring word.
Paul Gerber van AfriForum het gesê dat die organisasie in samewerking met adv. Gert van Niekerk van die VF Plus en Johan Stander van die DA en wyksraadslid vir die gebied, kyk hoe die situasie opgelos kan word.
Gerber het Woensdag kontak gemaak met die eienaar van die grond. Hulle is van voorneme om binnekort te vergader om oor die situasie vorentoe te praat.
“Ons sal bepaalde voorstelle maak en hoop dat ons ‘n oplossing sal kry wat tot voordeel van al die partye is. Die eienaar het aan my gesê dat hy al telkemale kontak gemaak het met die munisipaliteit en daarna nog niks weer van hulle gehoor het nie.”
IN SHORT: A woman (52) died on Tuesday evening after her vehicle went down a cliff into the sea at Voëlklip. She was driving a red Chevrolet Spark with a George registration number plate. Southern Cape police spokesperson, Sergeant Chris Spies, told the George Herald at the scene that no foul play is suspected.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'