GEORGE NUUS - 'n 75-jarige afgetredene van George was ywerig om die Covid-19-inenting te ontvang en vier ure voor die elektroniese dataregistrasiestelsel (EVDS) vir die publiek geopen het, het hy en sy vrou reeds geregistreer.
Toe hulle teen verlede week nog nie hul tweede SMS ontvang het om 'n afspraak by 'n inentingsperseel te bevestig nie, het hulle besluit hulle gaan net instap.
"Ons was by Harry Comay-hospitaal, maar hulle het ons dadelik ingelig dat daar nie genoeg entstowwe was nie. Ons is toe na George-sentrumkliniek toe waar daar teen 08:30 reeds 'n paar mense gestaan en wag het met dieselfde gedagte as ons. Van hulle was oor die tagtig en het gesukkel om daar te kom."
Volgens die klaer het die personeel aan hulle bevestig daar is genoeg dosisse vir instapkliënte, maar is hulle aangesê om eenuur terug te kom omdat die mense wat afsprake het, eerste gehelp word.
Hy het egter op diens aangedring aangesien die ouer mense reeds baie moeite gehad het om daar te kom.
"Daar was slegs 12 persone - ses binne die kliniek en ses mense agter ons. Die helfte het afsprake gehad. Die personeel het uiteindelik toegegee en ons wat ingestap het, is ingeënt, hoewel ons eers om 10:45 daar uit is. Dit is nie aanvaarbaar nie."
Polio-inentings
Die klaer meen die departement sal meer georganiseerd moet wees as daar miljoene mense ingeënt moet word. "Ek het as tiener gehelp by 'n inentingsperseel waar mense destyds teen polio ingeënt is. Daar is tussen 3 000 en 4 000 mense per dag ingeënt by die een klein perseel.
Dit was nie kinderspeletjies nie en jy was poegaai aan die einde van 'n dag, maar ons het dit gedoen. My taak was om die mense vooraf te sif en in te lig oor die entstof en newe-effekte.
Die rede vir die hoë getalle inentings lê daarin opgesluit dat die logistieke beplanning topgehalte was en dat elkeen sy deel gedoen het."
Hy het wel gesê die personeel was almal vriendelik en het ook erken die inentingsentrum by Harry Comay-hospitaal is baie goed georganiseerd.
George Herald het uit 'n ander bron 'n pluimpie vir die George-sentrumkliniek ontvang. 'n Egpaar het verlede Donderdag, 10 Junie, sonder 'n afspraak na die kliniek gegaan waar 'n personeellid hul kontaknommer geneem het. Hulle is die volgende dag gebel om in te kom vir hul inenting en hulle het gevoel die diens was goed.
Afsprake ver van huis
Klagtes van twee egpare uit Riversdal het die koerant ook bereik. Die een egpaar het saam geregistreer. Die EVDS het vir haar 'n afspraak in Riversdal gegee vir inenting, maar haar man s'n was in Swellendam. Die tweede egpaar, reeds in hul 80's het heel aan die begin geregistreer, maar het tot nog toe geen afspraak-SMS ontvang nie.
"Instap help ook nie, want in Riversdal gaan mense al van verlede Donderdag af elke dag. Dan moet hulle die volgende dag weer terug. Klaarblyklik kry hulle net 50 dosisse en hulle doen omtrent net vyf instap-inentings," kla die vrou.
'n Georgiet het laat weet haar man is in George geregistreer, maar sy SMS-afspraak is by die Uniondale-hospitaal.
In reaksie op soortgelyke klagtes, het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, in 'n onlangse verklaring gesê die EVDS word op nasionale vlak beheer, maar die provinsie werk daaraan om groter beheer oor die skedulering van afsprake te verkry.
"Ons glo provinsies moet meer beheer gegee word omdat ons 'n beter begrip het van ons distrikte en waar die persele geleë is in terme van waar iemand woon. Dit sal lei tot 'n beter afspraakbestuur, kommunikasie van afsprake en 'n groter aantal afsprake wat geskeduleer en nagekom kan word deur inwoners."
Soveel moontlik ingeënt met beskikbare dosisse
Nadia Ferreira, distriks-woordvoerder vir die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het by navraag gesê daar is begrip vir die publiek se angstigheid om die inenting te ontvang, maar die inentingspersele gee voorkeur aan persone met afsprake, waarna instapkliënte gehelp word indien daar genoeg entstowwe oor is vir die dag. "
Ons doen dus 'n beroep op mense om te wag vir hulle tweede SMS wat die datum, tyd en plek van hulle afspraak sal bevestig. Indien hulle die kans wil waag om 'n inentingsperseel sonder 'n afspraak te besoek, kan ons nie waarborg dat hulle wel 'n inenting gaan ontvang nie.
"Ons probeer wel soveel mense moontlik, met die aantal vaksines tot ons beskikking, inent in die kortste moontlike tyd."
EVDS is outomaties en maak afsprake op eerste-geregistreer-eerste-afspraak-basis. Indien persone wil bevestig of hulle geregistreer is of hulle besonderhede wil opdateer, kan hulle aanlyn gaan of die provinsiale blitslyn skakel by 0860 142 142.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'