TUINROETE NUUS - Daar was groot teleurstelling in die geledere van die Tuiniqua-sentrum se personeel wat Woensdag ingeënt sou word, 'n dag nadat die nasionale regering tydelik halt geroep het met die J&J-inentingsprogram.
Dr. Zweli Mkhize het Dinsdagaand gesê die tydelike staking is in reaksie op die Voedsel- en Medisyne-reguleringsowerheid (FDA) van die VSA se aanbeveling dat die Johnson & Johnson-inentingsprogram daar tydelik gestop word.
Dit volg nadat ses uit ongeveer sewe miljoen mense wat die entstof daar ontvang het, bloedklonte ontwikkel het en een persoon gesterf het.
Die VS se Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) het gesê die opskorting is aanbeveel uit 'n "oorvloed" van omsigtigheid aangesien die gevalle uiters raar is.
Mkhize het gesê geen bloedklonte ná inenting is nog in Suid-Afrika aangemeld uit die 289 787 gesondheidswerkers wat tot op hede onder die Sisonke-protokol ingeënt is nie.
Volgens Tuiniqua se hoof, Alani Voigt, sou ongeveer 30 van hul personeellede Woensdagmiddag gegaan het vir inenting.
"Ons was baie opgewonde dat ons personeel nou die geleentheid sou kry. Dié wat nie Woensdag aan diens was nie, moes gebel word om hulle in te lig om nie vir inenting aan te meld nie."
Toe Covid-19-entstowwe aanvanklik beskikbaar geraak het, was Voigt daarteen gekant omdat sy gevoel het daar is nie genoeg navorsing gedoen nie.
Soos meer data beskikbaar geraak het, het sy egter haar mening verander en beveel sy dit nou aan, het sy aan George Herald gesê.
Aktiewe gevalle in Tuinroete
Die Tuinroete het op Dinsdag 13 April 226 aangemelde aktiewe gevalle gehad: George 104, Bitou 16, Knysna 18, Mosselbaai 25, Hessequa 8, Oudtshoorn 54 en Kannaland 1. Die totaal is 7 meer as 'n week gelede se syfer van 219.
Laagste infeksiesyfer onder gesondheidswerkers
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde het hierdie week in 'n verklaring die huidige lae infeksiesyfer onder gesondheidswerkers in die provinsie toegeskryf aan die inentingsprogram.
Op Maandag 12 April was daar 16 aktiewe gevalle onder gesondheidswerkers, die laagste sedert die begin van die pandemie. In Desember 2020 tydens die piek van die tweede golf was daar op 'n stadium 1 971 aktiewe gevalle.
Die provinsie het tot en met 12 April 53 071 gesondheidswerkers ingeënt.
J&J newe-effekte
Prof. Ameena Goga, mede-hoofondersoeker in die Sisonke-implementeringstudie, het op SABC Radio gesê uit al die mense wat al die entstof gekry het, het 17 positief getoets vir Covid-19.
Ongeveer 80% van mense het newe-effekte soos koors, kopseer, lyfseer en ander griepsimptome aangemeld. In enkele gevalle het mense flou geword. Bevindings sal teen die einde van die maand/middel-Mei bekendgemaak word wanneer die studie ten einde loop.
Goga het gesê die J&J-entstof beskerm 'n mens nie ten volle teen Covid-19-infeksie nie, maar dit verskaf 85% beskerming teen ernstige siekte en 100% beskerming teen dood.
Tweede inentingsfase
Mkhize het verlede week aangekondig die tweede fase van inenting sal op 17 Mei begin nadat Suid-Afrika die verskaffing van 51 miljoen dosisse entstof van verskillende verskaffers vasgemaak het. Die entstowwe word in die komende weke verwag. Hiervan is 31 miljoen J&J-dosisse.
Die aanvanklike 20 miljoen Pfizer-dosisse wat vasgemaak is, het midde-in die opskorting van die J&J-inentings met 10 miljoen gegroei, waarvan 2 miljoen volgende maand afgelewer sal word.
'n Verdere 1,2 miljoen entstowwe word ook van Covax (Covid-19 Vaccines Global Access) verwag. J&J het belowe dat Suid-Afrika in April meer as 1,9 miljoen dosisse wat plaaslik vervaardig is, sal ontvang.
Die regering mik om 42 miljoen mense in te ent. In die tweede fase word persone ouer as 60 en essensiële werkers geteiken. Hierdie fase sal na verwagting teen Oktober klaar wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'