Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Inisiatief om tuin te maak op plekke waar onwettige vullisstorting plaasvind, is besig om vorm aan te neem in die Rosemoor- en Conville/Parkdene-woonbuurte.
Twee inwoners van Conville probeer hul woonbuurt verfraai deur plante te plant op sypaadjies en oop gedeeltes grond wat deur vullis ontsier word.
Dit kan dalk 'n oplossing bied vir hierdie probleem wat die belastingbetaler jaarliks miljoene aan opruiming kos, sê Raphael Goeieman en Ansie Greeff, wie se idee dit was.
Volgens Goeieman het hulle twee weke gelede hiermee begin nadat nog 'n inwoner, Johan Swarts, hulle gevra het om te help om 'n sypaadjie skoon te maak. "Ons het tot op hede reeds vier persele skoongemaak en beplant. Sedertdien is daar nog nie weer vullis op hierdie plekke gestort nie."
Rommel is nog nie weer hier gestort nadat plante geplant is nie.
Vullishoop tot gemeenskapstuin
In Rosemoor is 'n soortgelyke inisiatief al verlede jaar begin deur Levienia Botha, Anthony Crowley en Charles Joubert. "Ons het te midde van die Covid-19-pandemie besluit, ons het genoeg gehad van rommel en met behulp van lede in die gemeenskap het ons 'n voorheen onooglike vullishoop in 'n gemeenskapstuin verander.
Mense moet besef dat ons 'n verandering kan maak en dat ons woonbuurte nie soos rommelhope hoef te lyk nie," sê Botha.
"Ek en Anthony het sommer werkskepping daarvan gemaak en 'n jong, werklose outjie 'n maandelikse fooi gegee om die perseel fisies te monitor, tot waar ons mense kon kry om nie meer daar te stort nie."
Verfraaiing én rehabilitasie
In Conville se projek help jongmense wat met misdaad en dwelms deurmekaar is om die plantwerk te doen, volgens Goeieman. "Deur iets konstruktief aan hulle te bied om te doen, dien die plantery ook as 'n tipe rehabilitasieprojek. "Ons wil dit verder neem en graag 'n kursus in vaardigheidsontwikkeling hierheen bring wat suksesvol in Johannesburg aangebied word. Daarvoor benodig ons egter boumateriale en sal dankbaar wees vir skenkings in hierdie verband."
Kyk 'n video hieronder:
Die plante is deur inwoners geskenk, maar meer word benodig om die projek uit te brei. "Ons vra dat mense wat dalk van plante ontslae wil raak, ons kontak. Ons wil regtig probeer om 'n mooier en skoner omgewing te skep.
Moontlik kan ons ander woonbuurte inspireer om ook so te maak."
Mense wat kan help deur plante of boumateriaal te skenk, kan Goeieman bel by 078 705 2789.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'