GEORGE NUUS - In die vroeë oggendure van Vrydag 17 Junie het George een van hul mees geliefde dokters aan die dood afgestaan.
Dr. Leonie Schoeman (60), ‘n algemene chirurg en spesialis in pediatriese chirurgie, het by haar eie huis in die teenwoordigheid van haar man, ‘n pastorale berader, en hul twee dogters, weens kanker gesterf.
Schoeman is 18 maande gelede met kolonkanker gediagnoseer, wat reeds na haar lewer versprei het.
“Sy was vroeg in Februarie in remissie, met geen teken van kanker nie, al die kanker is uit haar lewer gesny by die Groote Schuur-hospitaal. Die weefsel wat hulle weggestuur het, het niks gewys nie. Sy sou op 2 Mei weer met haar praktyk begin het,” het haar man, gesê.
“Ons het reeds ‘n nuwe spreekkamer vir haar gehuur, iemand aangestel, alles was ingerig en afsprake was al gemaak.”
Op 26 April het sy egter ‘n skandering gehad en daar is gevind dat die kanker weer terug is in die oorblywende derde van haar lewer, asook ander plekke. Dit was ‘n baie aggressiewe vorm van kanker.
Dr Leonie Schoeman
‘n Vol lewe
Schoeman en haar eggenoot was vanjaar 34 jaar getroud. Hulle het in 2001 na George verhuis, waarna sy eers by dr. Jan Maritz se praktyk gewerk het en daarna ‘n posisie by Mediclinic George aanvaar het as die hoof van dié hospitaal se eerste noodeenheid.
“Dit was in die tyd toe die Lampbrecht-kliniek oorgekoop is, en daar besluit is om ‘n volwaardige noodeenheid te bou en begin. Sy was die eerste hoof van die eenheid en het die eerste toerusting aangekoop. Sy het later haar eie privaat algemene chirurgiepraktyk begin,” het Nel gesê.
Destyds, nadat Schoeman as algemene chirurg gekwalifiseer het, het sy gespesialiseer in kinderchirurgie by die Great Ormond Street Hospital in Londen. Voor hul jare in George, het die egpaar sowat 10 km buite Vereniging, in Rustervaal gewoon. Schoeman het in daardie jare by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in kinderchirurgie gepraktiseer.
Dr Leonie Schoeman en haar man, Dr Frederik Nel
Rowwe pad
“Ons het 18 maande terug geweet dit gaan ‘n rowwe grondpad wees. Intellektueel het sy geweet die gaan nie maklik wees nie, en selfs al sou die kanker uitgesny word, en met chemoterapie, sal dit rof wees en is die kans dat dit terugkom groot,” het Nel gesê. “Dit het gouer gebeur, maar ons was altyd bewus daarvan dat dit kan of sal terugkom. Kolonkanker is iets wat genees kan word as jy dit betyds kry. As dit klaar begin versprei het, dan raak dit ‘n komplekse saak.”
Nel het vertel dat sy vrou tot die einde baie hard geveg het om onafhanklik te wees. “Ek dink sy het dit so goed geneem as wat mens kan verwag iemand dit kan neem. Dit was ‘n baie groot teleurstelling, moeilik om die kinders te bel.”
Die WhatsApp-boodskappe wat Nel tot dusver ontvang het, strek in die 100de. “Sy was baie geliefd onder haar pasiënte, kollegas en verpleegpersoneel. Ek dink veral omdat sy met integriteit gepraktiseer het. Sy sou jou opereer omdat sy dink dis die beste uitweg. As sy dink die uitkoms in die Kaap sal beter wees, het sy jou gestuur.”
Dr Leonie Schoeman en haar man, Dr Frederik Nel.
Groter prentjie
Nel onthou sy vrou as ‘n persoon met ‘n sin vir humor, ‘n baie gematigde temperament, iemand met baie insig in mense en die lewe. “Sy het die vermoë gehad om die groter prentjie raak te sien, en dit was so in haar werk, maar ook in haar persoonlike lewe. Sy kon nonsens op ‘n afstand raaksien en het haar nie daaraan gesteur nie. Sy het ‘n omgeehart gehad vir mense, maar wat baie mense nie besef het nie, sy was tog ook ‘n introvert, terwyl sy baie uitgaande teenoor mense opgetree het. Sy was lief vir haar eie space. Ek en sy kon soms vir ure op die bed lê, elkeen met sy eie boek, sonder om nodig te hê om met mekaar te praat.”
Hulle twee dogters, Marie-Annette Nel (24), ‘n forensiese rekenkundige by Investec in Johannesburg en Emma Nel (22), ‘n US-meestersgraadstudent in toegepaste wiskunde, is albei tans tuis saam met hul pa. “Hulle is nou hier in George by my, werk nou hier by my van die huis af. Dit het goed uitgewerk, hulle kon afskeid neem,” het Nel gesê.
Dr. Schoeman se gedenkdiens vind eerskomende Dinsdag, 21 Junie, om 14:00 by die Verenigende Gereformeerde Kerk in Kanariestraat, Rosemoor, plaas. Nel was vir jare die predikant van hierdie gemeente.
Dr Leonie Schoeman en haar gesin.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'