GEORGE NUUS - 'n Onderonsie in die aanklagkantoor van Conville-polisiestasie waarvan 'n video wyd op sosiale media gesirkuleer is, word tans krimineel en dissiplinêr deur die polisie ondersoek.
Polisiebeamptes van Conville-polisie, sowel as twee beamptes van die Pacaltsdorp-polisie wat op daardie stadium van diens af was, word by die voorval verlede Donderdag, 7 Mei, betrek.
Die video het 'n hewige reaksie op 'n plaaslike Facebook-groep, Lokasies Staan Saam, ontlok.
"Hugo, bel Bheki Cele," lees een persoon se inskrywing. Ander vra hoekom beamptes sulke wangedrag openbaar, terwyl daar hier en daar begrip getoon word vir die druk waaronder die polisie tans verkeer.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het Sondag bevestig dat die saak onder die aandag van die polisie se streekbevelvoerder gebring is, en dat hulle reeds met 'n ondersoek begin het.
Aksie
Die beeldmateriaal toon beamptes van Conville-polisie binne hul aanklagkantoor, asook 'n paar ander mans [lede van Pacaltsdorp-polisie in siviele drag]. Die video fokus op 'n vroulike beampte wat ook op haar beurt 'n video van die groepie mans neem.
Een van die mans het sy ongelukkigheid uitgespreek oor die feit dat die polisiebeampte 'n video neem. Op 'n stadium sê hy iets vir haar, waarna sy hom bespring. 'n Geveg breek uit en ander beamptes slaag daarin om die twee te skei. 'n Manlike polisiebeampte hou egter aan om die aanhitser te skop en slaan.
Kuiery
Volgens Pojie dui ‘n voorlopige ondersoek daarop dat die twee polisielede van Pacaltsdorp-polisie, wat van diens af was, by vriende in Le Vallia gekuier het. Hulle gedrag het buite beheer geraak en die Conville-polisie se hulp is ingeroep.
"Die twee polisielede se gedrag was teenstrydig met die bepalings van die wet op rampbestuur. Hulle is in hegtenis geneem, waarna die saak by die polisie se aanhoudingselle geprosesseer is," het Pojie gesê. "Hier het hulle weer oproerig geraak en die polisie moes geweld gebruik om hulle in toom te hou."
'n Skermgreep uit die video waartydens polisielede slaags geraak het.
Ondersoek
Kommentaar oor die voorval het kommer oor die ondersoek ingesluit, met spesifieke verwysing na die gedrag van die lede van Conville-polisie. Burgerlikes is bekommerd dat slegs die aanhitsers onder die spervuur gaan kom, terwyl die gedrag van die beamptes van Conville-polisiestasie betreurenswaardig was.
Volgens Pojie word die voorval in geheel ondersoek. "Dit sluit dus die hele petalje in," het hy gesê. "Die saak is ook onder die aandag van die Onafhanklike Polisie Direktoraat (Opod) gebring. Die lede wat aan diens was, se bydrae tot die voorval en hul gedrag word dus ook ondersoek."
"Ons [die polisie] het die gemeenskapslid bedank wat die saak onder die aandag van die streekbevelvoerder gebring het," het Pojie gesê.
An altercation at the Conville Police Station charge office, of which a video has been widely circulated on social media, is currently being investigated by the police. Police officers from both Conville and Pacaltsdorp police stations were involved in the incident last Thursday, 7 May.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'