SUID-KAAP NUUS - Dit lyk nie of hopsboere in die groter George-gebied in die stadium probleme het na aanleiding van die uitdagings wat die bierbedryf in die gesig staar nie.
The Citizen het vroeër die maand berig dat Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) en die regering 'n ooreenkoms gesluit het om van sy alkoholiese en nie-alkoholiese drank na sy depots te kan vervoer.
Die maatskappy het vroeër aangedui dat hy gevaar loop om in die huidige omstandighede 400 miljoen bottels bier te kan verloor - dis 'n geraamde 130 miljoen liter. Dit is omdat die stoorkapasiteit by die sewe brouerye van SAB ten volle benut is en nie meer kan ontvang nie. As dit nie vervoer kon word nie, sou SAB dit moes vernietig en na raming kon dit 'n verlies van R150 miljoen vir die maatskappy beteken. In die huidige omstandighede word die vervoer van alkoholiese produkte nie toegelaat nie.
Vrae het in die Suid-Kaap ontstaan oor hoe die situasie die hopsbedryf kan raak wat 'n belangrike rol in die landbou in die gebied speel. Dit verskaf onder meer werk. Dit is bekend dat hopsboere by onder meer Waboomskraal naby George die produk lewer en blykbaar is die groter gebied die enigste gebied in Afrika waar daarmee geboer word. Hops is die produk wat die smaak aan bier gee.
Deon Barnard, 'n boer by die bedryf wat betrokke is, het daarop gewys dat bier van verskeie ander produkte gemaak kan word, maar dit kan nie sonder hops gedoen word nie. Ingevolge 'n kontraktuele ooreenkoms word hops een keer per jaar gelewer.
Volgens hom is die oes afgehandel en gelewer voor die inperking. In die stadium is daar nie kommer nie, het Barnard gesê. "Dit is besigheid soos gewoonlik." Na wat verneem word is die volgende oes geskeduleer om eers aanstaande jaar gelewer te word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'