GEORGE NUUS - Munisipale skemahuise en ander staatsgesubsidieerde huise, soos Hop-huise*, is manna uit die hemel vir diegene wat dakloos is. Maar wat maak jy as jou woning mettertyd begin kraak en jy vrees vir jou gesin se veiligheid?
Sannie Terblanche (71) van Marigoldstraat in Pacaltsdorp woon al 24 jaar in haar skemahuis wat nou ernstige tekens van disintegrasie toon.
Bestuurslede van die Landless People Civic Organisation het haar situasie onder George Herald se aandag gebring. Met vele huiseienaars wat kopkrap oor dieselfde kwessie is navrae in die verband aan George-munisipaliteit gerig.
Die direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe, het bevestig dat Terblanche se eiendom 'n skemahuis is en dat sy self die gebreke moet herstel.
Ofskoon die kwessie wel onder die munisipaliteit se aandag gebring is, is daar 'n titelakte en kan die munisipaliteit nie help nie.
Die woning is op 10 September 1998 gekoop en is op 11 Desember 2008 in haar naam geregistreer.
Sodra 'n eienaar sy/haar titelakte ontvang het, moet hulle self opdok vir herstelwerk - tensy die foute binne die vyf jaar waarborg tydperk aangemeld word.
Vyf jaar waarborg
Die vraag is nou, wat staan eienaars van Hop-huise te doen wanneer daar bouprobleme is?
Volgens Lubbe berus die verantwoordelikheid by die eienaar om instandhouding te doen die oomblik wanneer daar 'n titelakte betrokke is.
Lubbe sê: "As dit binne die vyf jaar waarborg is en daar is strukturele gebreke, sal die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (NHBRC) in kennis gestel word om die saak te ondersoek om vas te stel wat die probleem is."
Dit is die eienaar se verantwoordelikheid vir instand-houding na oordrag van die woning. Strukturele gebreke (huis struktuur en dak) is slegs van toepassing op Hop-behuising vir vyf jaar na okkupasie.
Die munisipaliteit sal nie behulpsaam kan wees met klagtes rondom die onderhoud en instandhouding van wonings wat oorgedra is aan eienaars nie."
Die ou skemahuise is destyds onder Wet 4 van 1966 gebou. 'n Hop-huis is 'n gesubsidieerde huis waarvoor persone na 1994 deur die provinsiale regering moet aansoek doen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'