OUDTSHOORN NUUS - Vandag is 'n vakansiedag, ons vier Vrouedag en 'n heerlike langnaweek:
Trio du Cap Classique
10:30 NG Moederkerk (60 minute)
Met Liesl Stoltz (fluit), David Pinoit (tjello) en François du Toit (klavier)
Hierdie program kombineer werke vir fluit, tjello en klavier, waaronder Felix Mendelssohn se Trio in D-mineur, moontlik sy mees-bekende kamermusiek-komposisie, asook CM von Weber se Trio in G-mineur Opus 63. Die program eindig met Herfs deur Argentynse tango-komponis, Astor Piazzolla.
Bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars Liesl Stoltz en François du Toit het in 2018 hierdie trio saam met Franse musikant, David Pinoit gestig.
Hulle is elkeen internasionaal-erkende musici en het regoor Suid-Afrika, Europa, Asië en die VSA studeer en opgetree.
When Poets speak - Sulayman Human (klavier)
14:30 NG Moederkerk (60 minute)
Musiek wat deur 'n ander kunsvorm geïnspireer is, het altyd 'n sterk, duidelike boodskap. Alle vorme van kuns bring mense byeen en tydens hierdie ontmoetings word gedagtes geopen en 'n gesamentlike bosintuiglike ruimte binnegegaan.
Hierdie uitvoering is geïnspireer deur van die donkerste poësie, asook van die dapperste poësie, waaronder Gaspard de la Nuit deur Aloysius Bertrand en Divine Comedy deur Dante Alighieri. When Poets Speak is 'n spesiale uitvoering deur plaaslike pianis Sulayman Human in sy tuisdorp, met werke van Bach, Mozart, Liszt en Ravel.
Sulayman Human – When poets speak.
Marimba Melodies
18: 00 NG Moederkerk (60 minute)
Die SAMRO-bekroonde Dylan Tabisher besin in Marimba Melodies oor sy reis as marimbaspeler, wat in 2006 begin het. Hierdie reis het hom aan die einde van 2017 na Tokio geneem, waar hy vir drie maande saam met Keiko Abe studeer het.
Hy begin sy program met Michi (wat pad of weg in Japannees beteken), een van Abe se mees bekende komposisies. Dit is die eerste ernstige marimba-werk wat Tabisher as jong, ambisieuse kunstenaar geleer het.
Hierna volg werke van sy gunsteling komponiste, waaronder JS Bach, Evelyn Glennie, Nebojsa Zivkovic en Astor Piazzolla.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo, Hessequa, Tuinroete nuus'