Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Die geliefde skoolhoof van Laerskool Blanco is op sy 57ste verjaarsdag, Dinsdag 1 Junie, met 'n helikopter die lugruim ingestuur. Personeel en leerders het sy geskenk vir dae geheim gehou.
Gerhard Ackerman, 'n hoof wat geken word aan sy insig en perspektief op die lewe, is die kans gegun om sy dorp, die omgewing en sy eie skool van bo uit die kajuit van 'n Robinson R44 te aanskou.
Savannah Helicopters het dié eenkeer-in-'n-leeftyd-ervaring moontlik gemaak en George Herald was deel van hierdie avontuur.
Met die opstyg het Ackerman 'n paar keer na sy asem gesnak, maar toe ons eers in die lug is het 'n sprokieswêreld van legkaartstukke oopgevou, met piepklein skapies en vuurhoutjiebokshuise.
"Dit is my eerste keer. Ek het nog nooit in 'n helikopter gevlieg nie. Dit is ongelooflik," het Ackerman gesê.
Al die leerders en personeel van Laerskool Blanco het op die sportveld vergader om ‘n spesiale boodskap vir hul hoof uit te spel.
Gerhard Ackerman en sy dogter, Chanté Ackerman, wat ‘n onnie by die selfde skool is en boonop ‘n dag na haar pa, 2 Junie, verjaar.
Die helikoptervlieënier, De Jager Bouwer, het ons oor Heroldsbaai geneem langs die kusstrook af in die rigting van Victoriabaai, daarna met 'n wye draai oor die dorpsgebied en Tuinroetedam.
Ackerman het sy eie huis in Denneoord gesoek, maar alles lyk so vreemd, so klein en ver.
Soos beplan het Bouwer koers gevat na Laerskool Blanco, waar die hele skool op die sportveld 'n spesiale boodskap vir hul hoof uitgespel het: " Mnr!". Ons het drie keer gesirkel om die "kaartjie" mooi te lees en te fotografeer.
Na die belewenis, terug by die skool, het die kinders steeds op die veld gewag om vir hulle meneer te sing. Ackerman sal sy 57ste verjaarsdag nooit vergeet nie.
Kyk twee video's hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'