GEORGE NUUS - Toe lede van die Tuinroete-diere-beskermingsvereniging (DBV) verlede Donderdag hondekos en -beskuitjies by Gwaiing aan die vierpotige inwoners gaan uitdeel het, het 'n hartverskeurende toneel hulle begroet.
Van die kinders in die informele nedersetting by die Gwaiing-varkplaas het van die hondebeskuitjies opgetel en geëet. Dit is Dinsdag deur die Tuinroete DBV se bestuurder, Salomé Bruyns, bevestig.
Volgens haar was dit deel van die DBV se uitreik na gemeenskappe om kos aan diere te verskaf. Dit is nie net mense wat in nood is nie, maar ook baie diere. Die DBV het al vier ton dierekos tydens die inperkingstyd uitgedeel.
"Ons het Donderdag die hondekos en hondebeskuitjies aan die honde gevoer. Van die kinders wat daar was, het dit gesien. Hulle het dit wat op die grond geval het opgetel en begin eet. Dit was hartverskeurend om te sien. Die kinders was duidelik honger."
Honde van 'n informele nedersetting by Gwaiing eet van die kos wat die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) vir hulle gegee het. Een van die inwoners stap verby.
Daar woon tussen 14 en 20 mense en hulle boer met varke. "Die omstandighede waarin hulle leef is nie goed nie. Daar is nie lopende water nie," het Bruyns gesê.
Die DBV se personeel het intussen 'n plan gemaak en broodjies vir die mense en kinders geneem. Die personeel het die broodjies uit hul eie sakke betaal. "Ons kon dit nie oor ons harte kry om hulle so te los nie."
Wanneer die DBV weer die gebied besoek, sal hulle indien moontlik weer vir hulle kos neem.
Sy het benadruk die publiek word steeds gevra om kos vir diere te skenk wat dan onder meer versprei sal word na diere in nood. Die kos kan daagliks gedurende die week by die DBV se kantore in die nywerheidsgebied tussen 08:00 en 16:00 afgelaai word. Die DBV kan gekontak word by 044 878 1990.
Die DBV se bankbesonderhede:
- Standard Bank: Garden Route SPCA,
- Rekeningnommer: 060823216
- Takkode: 050214
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'