Polisieduiker ao. Koos Coetzee (agter) saam met ao. Wessie Westraadt en sy Duitse herdershond, Wuska tydens ‘n oefensessie.
TUINROETE NUUS - Die liggaam van ‘n 66-jarige man wat verlede Woensdag as vermis aangegee is, is vyf dae later, ná ‘n intensiewe polisiesoektog deur ‘n redding- en opsporingshond van die polisie in die Hartebeeskuildam, ongeveer 15km van Mosselbaai gevind.
Die SAPD het Woensdag 11 Augustus inligting van die publiek ontvang dat mnr. Salmon Abraham Johannes Robberts, beter bekend as Robbie, wat ‘n huis langs die Hartebeeskuildam bewoon waar hy diens as opsigter verrig, vermis word.
‘n Voorlopige ondersoek na die vermiste persoon het geen positiewe resultate opgelewer nie, totdat ‘n kano, roeispaan en hoedjie wat aan die vermiste behoort het, op die damwal gevind is. Die duikeenheid is dadelik geaktiveer om met die soektog te help.
Vyf lede verbonde aan dié eenheid het van Vrydag 13 Augustus tot Maandag 16 Augustus onverpoosd in die dam na die vermiste persoon gesoek.
Die hulp van ao. Wessie Westraadt met sy Duitse herdershond, Wuska, wat ‘n spesialis redding- en opsporingshond is, is
Maandag 16 Augustus van die George-honde-eenheid ingeroep om met die soektog behulpsaam te wees. Binne 10 minute nadat Wuska met die duikeenheid se rubberboot op die dam geneem is, het hy met sy snoet na aan die water aangedui waar die liggaam waarskynlik sou wees.
"Wuska sal met sy snoet sak tot millimeters van die water en opgewonde raak as hy iets kry. Oor die jare het ek geleer om sy liggaamshouding te lees. In hierdie geval het hy sagte tjankgeluidjies gemaak
toe hy die lyk se reuk optel. Partykeer sal hy selfs in die water spring en in die rigting van die reuk swem om sodoennde die ligging aan te dui," het Westraadt gesê.
Duikers van die eenheid het onmiddellik gereageer en die liggaam van die oorledene in water van ongeveer 10m gevind.
‘n Geregtelike nadoodse ondersoek word deur die SAPD Da Gamaskop se speur-ao. Marizanne du Plessis onderneem, maar geen gemene spel word vermoed nie.
Artikel verskaf deur die Mossel Bay Advertiser, susterkoerant van die George Herald.
Posted on: 10:46 Fri, 20 August 2010
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: