UNIONDALE NUUS - Die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale, het Sondag tydens 'n besoek aan Uniondale 'n onderneming gegee dat die griewe en frustrasies van die gemeenskap oor aangeleenthede wat verband hou met misdaad en die polisie, ondersoek sal word.
Mathale het die gemeenskap besoek as deel van die polisie se veldtog om uit te reik na landelike gemeenskappe met die doel om veiligheid in dié dele van die land te bevorder.
Die geleentheid is deur bykans 700 inwoners bygewoon. Tydens die geleentheid is benadruk dat die hoë vlakke van misdaad en veediefstal aandag sal kry.
Die geleentheid was ook om ander redes belangrik. Vroeër vanjaar was daar protesaksies oor dienslewering op die dorp en geweld het daarna uitgebreek. Skade is onder meer aan munisipale eiendom aangerig. Gemeenskap- en politieke leiers het daarna vir Mathale na Uniondale genooi.
Dit was die eerste keer dat Mathale Uniondale in sy nuwe hoeda-nigheid besoek het.
Van die aanwesiges het hul frustrasies en probleme geopper. Van dit hou verband met beweerde rassisme in die polisie.
Mathale het aanwesiges gewys op die polisie se dienste en dat hulle 'n reg tot toegang daartoe het.
Hy het onderneem, dat waar nodig, die nodige regstellings gemaak sal word. Hy wil binne vier maande 'n vorderingsverslag hê. Dit is moontlik dat hy later weer 'n opvolgbesoek aan die gebied sal bring.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die gemeenskap is welkom om insette te lewer oor polisiëring in die dorp.
'Ons bring jou die nuutste Uniondale, Tuinroete nuus'