GEORGE NUUS - Verteenwoordigers van sakekamers en sakeorganisasies het verlede Donderdag, 4 Mei, in George koppe bymekaar gesit oor die Wes-Kaap se nuwe ekonomiese groeiplan, Growth for jobs.
Dit het onder die vaandel van die AHi Wes-Kaap plaasgevind en is deur verteenwoordigers van 21 sakekamers en organisasies van regoor die Suid-Kaap bygewoon.
Jo-Anne Johnson van die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme het 'n oorsig van die plan gegee. Sy is vir die doeleindes van die plan gesekondeer na die kantoor van Alan Winde, Wes-Kaapse premier.
Die fokus is op werkskepping en die implementering oor 12 jaar. Die mikpunt is om teen 2035 'n inklusiewe ekonomie groei te verseker van R1 000 miljard. Dit moet plaasvind teen 'n groeikoers van 4 tot 6% per jaar.
In haar verduideliking van die plan het Johnson gesê 'n bepaalde proses is met die samestelling gevolg. Op die oomblik word werksgeleenthede wel geskep, maar dis nie genoeg nie. Daar is groei geleenthede in die provinsie en die vraag is hoe dit benut kan word.
Tydens die bespreking van die plan kon aanwesiges insette lewer. In die algemeen is die plan verwelkom, maar daar is wel kommer oor sekere aspekte uitgespreek.
Dit was onder meer oor samewerking tussen die privaat sektor en die plaaslike owerhede in die gebied. Daar is op gewys dat vir die inwerking stelling is dit baie belangrik dat daar samewerking tussen die sakekamers en die plaaslike owerhede sal wees.
Nog 'n bron van kommer is die vaardighede van jongmense in die gebied. 'n Vaardigheidsopname sal gedoen moet word. Waar daar ’n behoefte is, sal dit aangespreek moet word met doelgerigte opleiding.
Tydens die geleentheid is ook gevra dat sakekamers meer moet saamwerk.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het Maandag gesê dis 'n baie belangrike plan. Dit moet gesien word teen die agtergrond van die groot getalle nuwe intrekkers wat na die Suid-Kaap kom.
Hy het benadruk dit gaan nie 'n plan op papier bly nie. Nuwe werksgeleenthede sal geskep word. 'n Metingsproses sal in plek gestel word om dit dop te hou.
Die groeiplan sluit die formele en informele ekonomie is, soos die sogenaamde "township ekonomie". Die township ekonomie is baie belangrik want dit kan verskeie werksgeleenthede skep. 'n Soortgelyke opvolggeleentheid gaan op 18 Mei in Clanwilliam gehou word.
Ten opsigte van die implementering moet na drie fokuspunte gekyk word:
- Hoe om die besigheidsomgewing te stimuleer;
- Groeigeleenthede in die mark te stimuleer en
- Hoe gaan groei geleenthede ondersteun word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’