Die inwoners van Heatherlands is erg ontstoke oor die toedrag van sake wat die gebied onveilig maak.
Die likwidateur, Mohamed Patel, het Donderdag gesê daar is geen geld in die boedel om sekurititeit by die hotel aan te bring nie, maar dat die inwoners self hul kant moet briing. "In ruil vir julle gratis verblyf, is dit niks minder as billik dat julle die plek netjies hou en beskerm teen stropery nie."
Patel het onderneem dat die inwoners drie maande kennis sal kry om te ontruim. Neville Klue en twee ander inwoners is aangestel om toe te sien dat dinge ordelik verloop. Meeste van die gesinne woon reeds 'n geruime tyd daar, sommige jare.
Die eiendom is deur 'n Kaapse-hooggeregshofbevel onder likwidasie geplaas nadat die eienaar, Pluscor Six se direkteur Tertius Theart, gevangenisstraf opgelê is.
Die eiendom is in Februarie op 'n veiling aan die eienaar van die Gateway-hotel, Les Dyason toegeslaan, maar die transaksie het deur die mat geval en word daar volgens Patel met nuwe kopers onderhandel. Die ooreenkoms met Dyason is gekanselleer, maar Patel sê dat Dyason nuwe lewe daarin probeer blaas en dat hy aangebied het om die uitstaande skuld aan die munisipaliteit te betaal. "Ons het hierdie week met die amptenare ontmoet en wag om te hoor wat die uitstaande bedrag beloop. Eers dan sal ons 'n ingeligte besluit oor 'n moontlike ooreenkoms kan maak."
Patel sê Dyason het versuim om met waarborge vir die R4,58 miljoen na vore te kom en ingevolge die verkoopakte verbeur Dyason nou sy deposito.
Les Dyason voer aan dat die likwidateur nie geregtig is daarop om die verkooptransaksie te kanselleer nie en dat enige sulke aksie verdedig sal word.
Na die byeenkoms het die 'Hawthorndeners' gesê hulle is uiters bekommerd oor hoe om alternatiewe verblyfplek te bekom. Patel sê ingevolge die wet op die voorkoming van onwettige uitsettings moet besetters eers alternatiewe behuising aangebied word alvorens hulle uitgesit kan word. "En dit is nou vir jou 'n kopseer".
Waglys
Steven Erasmus, direkteur menslike nedersettings, grondsake en beplanning sê die munisipaliteit sal dit verwelkom indien die okkupeerders die behuisingskantore so spoedig moontlik besoek om vas te stel of hul name op die waglys is.
"Die munisipaliteit loods jaarlikse verskeie veldtogte waartydens alle persone met behuisingsbehoeftes aangemoedig word om hul name op die waglys te registreer. Die behuisingsbehoefte is tans net meer as 24 000 (uitsluitend die informele gebiede) en sal dit dus tot die voordeel van hierdie en alle ander persone in soortgelyke omstandighede wees om so spoedig moontlik die behuisingskantore te besoek. Vanweë die enorme behoefte word streng by 'n waglysstelsel gehou."
* Following a recent meeting the illegal residents of the Hawthorndene Hotel in George has agreed to move out should a buyer be found for the derelict hotel. The squatters also agreed to look after the property. The liquidator, Mohamed Patel said that the deal with the owner of the Gateway Hotel, Les Dyason has been cancelled. Dyason disputed this and said that he will take legal action if needed. Patel said in an effort to save the deal, Dyason has offered to pay the outstanding municipal debt and that they have met with officials to determine the exact amount, but that he is also in discussions with other interested parties.

Petro Klue (regs), 'n inwoner by Hawthorndene Hotel se deeltitelwoonstelle praat met likwidateur, Mohamed Patel, terwyl Ronel Stofberg, sy Insolvensie-praktikus, en ander inwoners toekyk. Foto: Pauline Lourens
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'