GEORGE NUUS - Die George-poskantoor in Yorkstraat het 'n ewige stryd teen haweloses wat van tyd tot tyd die hek van die posbusse oopbreek sodat hulle snags onderdak kan hê.
Martin Reimann het foto's geneem toe hy een oggend gaan pos uithaal het. Dit wys hoedat die slot argeloos afgebreek is en 'n 'bed' van karton en vullis agtergelaat is. Daar was ook 'n halfvol drankbottel.
"Ek was weer agterna daar en die slot was steeds stukkend. Die plek het na urine geruik. Ek kry die persone jammer wat dit elke oggend moet skoonmaak," het Reimann gesê.
Martie Gilchrist, die poskantoor se kommunikasiebeampte, het by navraag gesê hulle doen hul bes om die haweloses van die posbusse af weg te hou. Die saak is by die risikobestuurafdeling aangemeld.
"Die personeel van die poskantoor maak daagliks die vloere met anti-septiese middels skoon en verwyder die rommel wat rondlê. Die waarnemende areabestuurder het die saak by die polisie aangemeld en hulle het die hawelose mense verwyder. Sedertdien het daar nog nie weer mense kom oornag nie. Die slot is weer vervang."
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'