GEORGE NUUS - 'n Beampte van die munisipale afdeling vir wetstoepassing is deur 'n hawelose, met wie hy in gesprek was voor die York Park-gebou, in die gesig gesteek.
Die voorval het Maandag-aand, 27 September, omstreeks 19:00 in Yorkstraat plaasgevind.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die slagoffer 'n gesprek gehad met 'n hawelose wat vroeg gaan inkruip het. Die beampte wou glo weet of hy van plan is om daar te slaap.
"Daar was 'n woordewisseling en in die proses is die beampte verskeie kere in sy gesig met 'n mes gesteek. Hy het ook 'n meswond in sy sy opgedoen," het Pojie gesê.
"Die verdagte, 'n 37-jarige man, is op die toneel uitgewys en deur die slagoffer se kollegas gearresteer. Hy is later aan die polisie oorhandig," het Pojie gesê.
Die man verskyn vandag, Donderdag 30 September, in die George-landdroshof op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Met die aankoms van die polisie op die toneel is die slagoffer reeds na 'n hospitaal vir mediese behandeling geneem.
Munisipale skakelbeampte, Athane Scholtz, het gesê die beampte het ligte beserings opgedoen en is tans met verlof.
Wetstoepassingsbeamptes werk deesdae ook snags, na die tydelike implementering van 'n skofstelsel. "Dit is 'n bestuursbesluit en is in belang van die veiligheid van die inwoners van George," het Scholtz gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'