Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Groot opgewondenheid het Saterdag 31 Julie by die Aifa vliegskool in George geheers toe Hannes Strauss as deel van sy 21ste verjaarsdagvieringe daar besoek afgelê het.
Die geleentheid is op inisiatief van Anette van Rensburg, 'n vriendin van die familie, vir Hannes gereël.
Hannes, wat 'n passie vir vliegtuie het, is outisties en het Sondag 1 Augustus verjaar. In die verlede kon hy saam met sy ma naby George-lughawe gaan sit en kyk hoe die vliegtuie opstyg en land.
Met die destydse streng inperkingsmaatreëls was die lughawe tydelik gesluit en het alles verander. Hannes kon nie verstaan hoekom hulle nie meer lughawe toe kon gaan nie.
Met sy verjaarsdag verlede jaar is 'n koek in die vorm van George-lughawe vir hom gebak om op te maak vir dit wat hy so gemis het. Die lughawe is intussen wel oopgestel en Saterdag kon Hannes self gaan kuier by die lughawe om sy geliefde vliegtuie te sien.
LEES MEER: Dié verjaarsdag vat die koek
Hannes se ma, Annelie Strauss, het Maandag vertel dat Donovan Philander van die vliegskool vir Hannes voor in 'n leerlingvliegtuigie laat klim het.
Donovan Philander van die Aifa-vliegskool in George en Hannes Strauss gesels Saterdag.
"Hy kon die stuurwiel draai en was baie opgewonde om self te kan 'vlieg'. Daarna het hy ons gaan wys hoe die klein vliegtuie opstyg en land tot daar 'n groot vliegtuig ingekom het. Dit was baie naby, en waar Hannes gewoonlik van ver af sit en kyk, kon hy hierdie keer die vliegtuig se grootte, dreuning en spoed waardeer. Hy het selfs vir die loodse gewaai.
"Danksy Anette se inisiatief, George-lughawe en Aifa se samewerking, het Hannes 'n onvergeetlike 21ste verjaarsdag gehad. Dis heeltemal anders as die tradisionele mondigwording met partytjies, sleutels en sjampanje, maar dit was nommerpas vir hom."
Fotogalery: Hannes Strauss vir sy 21ste verjaarsdag bederf
Hannes is 'n leerling by Up With Downs, 'n privaat skool vir kinders met spesiale behoeftes in Blanco. Sy pa is 'n paar jaar gelede oorlede en hy het nog 'n jonger boetie, Christiaan (17).
Kyk 3 video's hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'