Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Verjaarsdagkoek in die vorm van die George-lughawe, het groot vreugde vir Hannes Strauss (20) gebring. Hannes is outisties en het 'n groot liefde vir vliegtuie.
In die verlede kon hy saam met sy familie naby die lughawe gaan sit en kyk hoe vliegtuie opstyg en land, maar met die inperkingsmaatreëls in Maart is die lughawe tydelik gesluit en het alles verander.
Hannes kon nie verstaan hoekom hulle nie meer lughawe toe kon gaan nie. Soggens het hy selfs in die motor gaan sit en wag om lughawe toe te gaan. Die eerste 10 dae was baie moeilik.
Hannes is 'n leerling by die Up With Downs skool waar sy juffrou, Cady Naftali-Joubert, 'n groot rol in sy lewe speel. Dit is 'n privaat skool en hy ontvang opleiding in 'n klas vir outistiese leerders.
Volgens haar het sy liefde vir vliegtuie 'n paar jaar gelede begin toe sy vir hom prentjies van vliegtuie gegee het wat hy moes uitknip.
Toe Hannes die eerste keer moes vlieg was dit vir hom erg traumaties, maar dit het later beter gegaan.
Oor die jare heen het hy baie lief geword vir vliegtuie en het 'n obsessie daaroor ontwikkel. Hy wou nie meer buite vliegtuie sit nie, maar binne.
Kyk 'n video hieronder:
Hannes se ma, Annelie Strauss, vertel dat hulle die idee gekry het om 'n verjaarsdagkoek in die vorm van die lughawe te laat bak om op te maak vir dit wat hy so gemis het. Sy het gereël dat Esmari van Bruwer vir hom die koek bak.
"Die uitdrukking op sy gesig toe hy die koek sien, kan nie met geld gekoop word nie," het Annelie vertel.
In die verlede sou hy nog sy verjaarsdag-koek deel, maar hierdie keer wou hy nie.
Fotogalery: Verjaarsdagkoek met 'n verskil
Hannes is verheug daaroor dat vliegtuie weer land en opstyg. Naweke moet hulle nou weer lughawe toe. En wie weet, dalk kry hy eendag die geleentheid om deur die lughawegebou te stap en by die stuurkajuit van 'n vliegtuig in te loer.
Sy pa is 'n paar jaar gelede oorlede en hy het nog 'n jonger boetie, Tiaan (16).
Hannes Strauss se verjaarsdagkoek van die George-lughawe en vliegtuie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'