RUBRIEK - Dié tyd van die jaar hoor jy altyd mense sê 'dis f*kk*l, dis festive', met ander woorde moenie bekommerd wees oor enigiets nie want dis die feesseisoen en tyd om jolig te wees.
Een ding wat nie twee is nie, ons gaan 'n festive season hê, maar as ons Covid 19- syfers aanhou styg gaan daar niks wees om te vier nie, NIKS.
So, hiermee wil ek elke inwoner in George, en die breë Tuinroete, vra om asseblief hulle maskers te dra as hulle in die openbaar verskyn, gereeld te saniteer, gesonde afstande te handhaaf en oorvol plekke te vermy.
Die afgelope twee weke het tientalle mense my gevra hoekom George se getalle so vinnig toeneem.
Wel, my antwoord is eenvoudig, deur onverantwoordelike optrede / gedrag. Baie mense dink die virus bestaan nie, een man skryf selfs op George Herald se Facebook-blad dat die koerant 'n 'propaganda masjien' is, terwyl ander dink die virus het verdwyn sedert ons op vlak 1 van die nasionale ramptoestand is.
Die pêre wat anti-maskers is, dra nie maskers nie, hulle dra blinddoeke.
Ek het die afgelope tyd vir werk of in die verbygang verby 'n hele paar kuierplekke, veral kroeë, reg oor ons dorp gery en opgelet hoe oorvol die plekke is.
Meer as 90% van die mense in die plekke dra nie maskers nie en daarom is ek glad nie verbaas oor ons syfers wat so vinnig styg nie.
In 'n onlangse gesprek met die polisie het ek my bekommernis hieroor gelug en hoop ek die polisie kan hierdie plekke meer besoek en seker maak alle regulasies word nagekom. Dit sal beslis die vinnige verspreiding van die virus help keer. So ook vir enige ander beplande byeenkomste.
Dan sien ek ook in al ons woonbuurte, geeneen uitgesluit nie, dat mense sonder maskers in die strate beweeg.
By winkels sien jy ook daar is hier en daar mense wat nie hulle maskers dra nie, dis nou behalwe die paar mense wat ek al gesien het wat per ongeluk hulle maskers in die motor vergeet het.
Hulle draai gewoonlik vinnig om en gaan haal dit en sit dit op voordat hulle by die winkels ingaan.
Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het Dinsdag sy bekommernis uitgespreek oor die vinnig stygende Covid 19-gevalle in die Tuinroete.
Ons streek is nou 'n brandpunt met die meeste aktiewe gevalle in die Wes-Kaap. George se syfers is die hoogste en Winde het 'n beroep op inwoners gedoen om die verspreiding te help keer deur die nodige protokol te volg.
Ek hoop ons almal sal ons deel doen.
Ons plaaslike besighede is erg geknou weens die pandemie, sommige moes hul deure sluit.
Die impak daarvan op ons onderwysers en leerders kan ook nie geïgnoreer of onderskat word nie, dan praat ek nie eens van die werksverliese, sterftes, druk op ons gesondheidstelsel, en, en, en...
Was julle hande mense, hou gesonde afstande en dra asseblief jou masker, dis nie f*kk*l nie!!!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'