Update
GEORGE NUUS - Die soektog na die vermiste visserman van Pacaltsdorp, Henry Remas, wat Saterdagoggend, 12 November, deur 'n brander van 'n rots by die Gwaiingriviermond afgeslaan is, duur voort.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, lt.kol. Malcolm Pojie, sê lede verbonde aan die Pacaltsdorp-polisie en die Wilderness NSRI, soek sedertdien die voorval steeds na die man.
"Voorlopige inligting dui daarop dat Remas en 'n vriend besig was om aas by die riviermond bymekaar te maak toe 'n brander hom van die rotse afgeslaan en meegesleur het," sê Pojie.
Nooddienste waaronder die NSRI, George Brand- en Reddingsdienste, Metro-redding en -ambulansdienste, die polisie en die Skymed-reddingshelikopter is Saterdag na die toneel ontbied en 'n soektog het onmiddellik begin.
Die NSRI het 'n reddingsboot vanaf Heroldsbaai geloots terwyl nog een na die toneel gesleep is. Reddingswemmers is ook uitgestuur om 'n kuslynsoektog te doen en die helikopter het uit die lug gesoek.
Seetoestande het Saterdag versleg en ondanks die uitgebreide soektog was daar geen teken van die vermiste man nie.
Die soektog het deur die week voortgeduur, maar teen druktyd Woensdagoggend was daar nog geen teken van die man nie.
Dit word beweer dat Remas en 'n vriend aas gaan soek het toe 'n brander hom van die rotse by die Gwaiingriviermond afgeslaan het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'