GEORGE NUUS - Parkdene Sekondêr is trots op hul hoofseun, Gustaviano Appels, wat verlede week provinsiaal tweede plek behaal het in die Nasionale Onderwystoekennings in die kategorie nasionale leerder.
Gustaviano sê die toekenning was vir hom 'n groot verrassing en hy voel trots op homself.
Hy was in Kaapstad vir die toekenningsaand waar premier Alan Winde ook teenwoordig was. Die toekenning vereer leerders wat leierseienskappe toon en 'n verskil in hul gemeenskap maak.
'n Onderwyser by Parkdene Sekondêr, Mercia Morris, het Gustaviano vir die toekenning genomineer en hy moes toe 'n virtuele aanbieding doen oor sy gemeenskapsbetrokkenheid en buitemuurse aktiwiteite, en hoe sy vaardighede ontwikkel het as gevolg daarvan. Hy het die beoordelaars baie beïndruk.
Gustaviano Appels by die Wes-Kaapse premier, Alan Winde.
Tydens die inperking het Gustaviano 'n sopkombuis vir honger mense in Borcherds begin wat steeds voortgaan. Hy moes self uitspring om werk te soek om sy skoolgeld en ander persoonlike uitgawes te betaal en het uiteindelik grafte gegrawe tydens die eerste twee golwe van die Covid-19-pandemie toe 'n groot vraag na grafte ontstaan het.
"Gustaviano is werklik 'n voorbeeldige en pligsgetroue leerder wat altyd sy beste lewer en bereid is om betrokke te wees by aktiwiteite in die skool. Jy kan op hom staatmaak. Hy is lojaal teenoor sy gemeenskap en skool en is iemand wat gaan vir wat hy wil hê."
Gustaviano is betrokke by die skool se dramaklub, dien op die skoolbeheer-liggaam en die skool se komitee vir borskankerbewustheid wat tydens Kansa se jaarlikse bewusmakingsveldtog aktiwiteite reël. Hy was ook deel van die skool se anti-boeliekomitee in 2019.
Gustaviano wil graag volgende jaar by die verkeerskollege in Kaapstad aansluit om hom te bekwaam vir 'n loopbaan as verkeersbeampte. Hy glo dit sal hom in 'n posisie plaas om aan te hou uitreik na mense en diensbaar te wees. Sy boodskap aan ander jongmense is om nie tou op te gooi nie, maar hul drome na te jaag.
"Bid altyd en vra die Here om jou te help om jou drome te bewaarheid ten spyte van jou omstandighede," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'