GEORGE NUUS - Een van die bekendste mense in die land se vermaaklikheidsbedryf, Hannes Muller, is nou 'n inwoner van die Suid-Kaap.
Die 60-jarige Muller en sy verloofde, Nina Wardman, het 'n plasie, Stamland, by Hoekwil gekoop waar hulle kruie vir medikasie verbou. Dit staan bekend as Kura.
Muller is bekend vir sy werk op die verhoog, voor die kameras en agter die skerms. Mense onthou hom veral vir Groet die Grotman waar hy hulle laat skaterlag het.
Gelukkig gaan sy kunstetalent nie verlore nie. Op die oomblik is hy steeds een van die regisseurs van die gewilde televisie sepie, Getroud met rugby.
Hy woon drie weke van die maand in Hoekwil en die ander week is hy in Johannesburg waar hy werk as die regisseur vir ses episodes per maand van Getroud met rugby.
Voordat hy na die Suid-Kaap verhuis het, het hy diep spore getrap. Muller het in die 80's aan die destydse Potchefstroomse Universiteit studeer en later onder meer by die ou kunsterade soos Sukovs en Truk gewerk.
Vanaf 2000 was hy ook die regisseur van Egoli en later van Binnelanders.
Vir Groet die Grotman het hy meer as 1 000 keer op die verhoog verskyn.
Muller het Maandag aan George Herald gesê hy het destyds meer as 20 jaar by Henley-on-Klip naby Johannesburg gewoon.
Later het hy na Johannesburg verhuis om nader aan die werk te kon wees.
Op 14 Desember verlede jaar het hy en Nina na die plasie by Hoekwil getrek. Die omgewing het hom lank bekoor en hy het in die verlede dikwels in die gebied vakansie gehou.
Hoekwil het hom gefassineer.
Dit was die akteurspaar Lida en Johan Botha wat hom van die dorpie vertel het.
Hy en Nina is baie gelukkig hier.
"Daar is baie uitdagings. Ons het 'n klein fabriek op die plasie wat kruietinkture (kruie-medikasie) maak."
Met die tegnologie is dit moontlik om van hier af te werk en hy doen voorbereiding vir Getroud met rugby hiervandaan.
Hy is opgewonde oor sy verblyf hier en is van voorneme om sy talente plaaslik beskikbaar te stel.
Muller en die George-kunsteteater gaan hande vat.
"Die teater is 'n groot kultuurbate vir die omgewing. Ek gaan hulle help. Ek wil help dat die ligte nie doodgaan nie."
A famous personality in the South African entertaining industry, Hannes Muller, is now a resident of Hoekwil, where he and his fiancee, Nina Wardman, have bought a smallholding. Muller is best known for his Groet die Grotman theatre series, and is also a director of the TV series Getroud met rugby. He commutes to Johannesburg for his TV work.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'