GEORGE NUUS - "Die beloning wat jy ontvang, kan nie met geld gekoop word nie." So vertel Elaine Swanepoel, koördineerder van Pets as Therapy (PAT) Tuinroete oor haar werk waar honde gebruik word om terapeutiese besoeke by instansies soos ouetehuise en spesiale skole, Hospices en sommige hospitale te bring.
PAT is 'n nie-regerings organisasie wat in 2001 sy ontstaan in Kaapstad gehad het. Tans is daar takke in Kaapstad, Stellenbosch/Helderberg, Hermanus, George, Port Elizabeth, Oos-Londen en Polokwane.
PAT is 'n organisasie wat uit vrywilligers bestaan en mense word nie betaal vir hul dienste nie. Die organisasie is afhanklik van bydraes van die publiek.
Volgens Swanepoel is daar die afgelope tyd beslis 'n groter vraag na die dienste en navrae daaroor.
Daar is nie 'n spesifieke honderas wat gebruik word nie, maar honde gaan eers deur 'n keuringsproses voordat hulle aanvaar kan word om as besoekende diere gebruik te word.
Tydens evaluering word gekyk na die temperament en karakter van die dier. Die hond moet reeds 18 maande oud wees en nie ouer as nege jaar, moet reeds ses maande by sy eienaar wees, die eienaar moet 'n brief van 'n veearts hê wat aandui dat die hond gesond is en die werk sal kan doen.
Voorts moet inentings op datum wees en die veearts moet ook aandui dat die hond se ontwurming op datum is. "Ons kyk na die prentjie in geheel dat die hond gesond lyk," het Swanepoel gesê.
"Die hond moet ten minste in besit wees van die bronssertifikaat van Good Canine."
Swanepoel benadruk PAT-terapie honde moet nie verwar word met die "hulphonde", wat mense bystaan soos gidshonde vir die blindes, outistiese persone en epilepsie nie. Die honde word spesiaal opgelei in die veld om hul eienaars te kan bystaan.
Van die PAT-honde is ook op 'n spesiale program, Reading Dogs, waar hulle kinders help met leesprobleme.
Swanepoel kan nie uitgepraat raak oor die voordele om die besoekende diere by instansies te akkommodeer nie.
"Om met 'n PAT-hond of kat in 'n vertrek in te stap is soos om 'n towerstokkie te swaai."
In 'n studie oor erge demensie, is bewys dat na 'n 30 minute lange besoek deur PAT, daar 'n verbetering was in die gemoed, wakkerheid en orienteering van die persone.
Voorts is dit vir pasiënte wat moeilik kommunikeer, makliker om met diere te kommunikeer.
"Wanneer 'n pasiënt die dier streel of borsel is daar 'n willekeurige toename in die gebruik van hande en ledemate wat moontlik wegkwyn weens artritis of ander aftakelende kondisies.
Ouer mense, en mense met geestesiektes, is baie eensaam en PAT-diere het die vermoë om deur die grense van hierdie eensaamheid te breek.
PAT-honde word ook gebruik om kinders meer bewus te maak van hoe om hul diere te behandel en te versorg. Honde oor die algemeen gee kinders meer selfvertroue.
Swanepoel het gesê sy het al self beleef hoe geheg 'n hond geraak het aan iemand wat gehelp is. Haar eie hond, Shade 'n Duitse herdershond, het 'n bejaarde persoon gehelp. Die bejaarde het later gesterf. Toe hulle weer die tehuis besoek waar die bejaarde gewoon het, het Shade die vertrek binne gestap en baie hartseer gelyk. Daarna wou sy nooit weer by die vertrek ingaan nie.
Mense wat meer inligting wil hê kan Swanepoel kontak by 083 561 0359 na 16:00 of besoek die webblad www.pat.org.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'