Die slagoffers, Tewie en Eurika Human, was bekendes op die dorp.
Tewie het 'n riooldiensbesigheid in Groot-Brakrivier bedryf.
Volgens polisiewoordvoerder, sersant Chantel Marais, is hy met 'n voorwerp teen sy kop in die motorhuis geslaan, terwyl Eurika met verskeie steekwonde aan haar nek in haar bed gevind is. Daar word tans bespiegel dat die egpaar reeds vroeër in die week aangeval is.
Polisie kan nog nie presies bepaal wanneer die egpaar vermoor is nie, en sal na afloop van die nadoodse ondersoek meer antwoorde hê.
Volgens sersant Marais het 'n gesinsvriendin alarm gemaak nadat sy die egpaar nie in die hande kon kry nie.
Die vriendin het na die huis op die Sandhoogtepad gegaan, waar sy deur 'n venster 'n bebloede Eurika in die slaapkamer sien lê het.
Polisie is Saterdagaand om 18:00 ontbied, waarna toegang tot die huis geforseer is omdat die deure skynbaar van buite gesluit was. Forensiese deskundiges het op Sondag, 19 Junie, saam met die ondersoekbeampte in die saak, adjudant offisier Gerald Rabie en Groot-Brakrivier-speurhoof, Boekies Kotze, die toneel gefynkam.
Volgens die polisie is verskeie leidrade tydens die ondersoek gevind.
Niemand is nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie, hoewel die polisie reeds 'n vermoede rakende 'n verdagte het.
"Ons sal geen steen onaangeraak laat om die skuldigde te arresteer nie. Ons polisiemanne en 'n span deskundiges werk dag en nag om hierdie moord op te los," sê sers Marais.

