Update
GEORGE NUUS - Die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) sal beslis op 15 Februarie aanstaande jaar plaasvind. Dit is Dinsdag deur Alewijn Dippenaar, die geleentheidsdirekteur van die OCC 2020, aan die George Herald bevestig
Dit ruim alle onsekerheid uit die weg, want tot onlangs was die aanbieding van aanstaande jaar se geleentheid nog in die weegskaal. Daar was vrae oor die beskikbaarheid van geld en borgskappe. Daar is onder meer gevra of die George-munisipaliteit weer betrokke gaan wees. Die geleentheid vir gestremde atlete is elke jaar een van die hoogtepunte op die kalender en lok atlete van oor Suid-Afrika en selfs uit die buiteland.
Tydens 'n onlangse stadsraadsvergadering wou Johan du Toit van die ACDP juis by Melvin Naik, die burgemeester, weet of die munisipaliteit weer in 2020 betrokke gaan wees. Naik het bevestigend geantwoord, maar nie daarop uitgebrei nie.
Dippenaar het Dinsdag gesê die munisipaliteit het aangedui dat hy R500 000 beskikbaar gaan stel. Dit is buiten die logistieke hulp soos byvoorbeeld wetstoepassing.
Die organiseerders het reeds R200 000 beskikbaar wat van borge ontvang is. Dit, saam met die geld wat deur die munisipaliteit bewillig is, maak dit genoeg om weer die geleentheid aanstaande jaar te kan aanbied. Hy het bygevoeg: "Ons kort egter nog R600 000 om 'n volwaardige geleentheid aan te bied."
Vanjaar is die geleentheid afgeskaal en toe is dit met R700 000 aangebied. In 2018 is 'n volwaardige geleentheid aangebied en toe was R1,3 miljoen beskikbaar.
Volgens Dippenaar soek die organiseerders steeds na nog borge vir aanstaande jaar se geleentheid en voelers is onder meer uitgesteek na mense of instansies in Amerika en België.
Hy het benadruk reëlings vir 2020 se geleentheid is op koers en minstens 'n 1 000 atlete word verwag. Inskrywings is reeds oop en atlete van Zimbabwe en Ghana het aangedui hulle kom deelneem. Selfs 'n atleet van Engeland het 'n aanduiding gegee van moontlike deelname. Van die groot name soos Ernst van Dyk, Pieter du Preez en Justine Asher het aangedui hulle gaan deelneem.
Alewijn Dippenaar, organIseerder van OCC 2019, omhels 'n deelnemer tydens vanjaar se geleentheid. Foto: Eugene Gunning
Dippenaar het gesê die organiseerders is verheug dat dit voortgaan. "Ons is weer terug in ons normale ritme en verwelkom dit dat die George-munisipaliteit weer betrokke sal wees.
"Ons is ook dankbaar vir die George-besigheidskamer vir hulle rol om die sakegemeenskap betrokke te kry by die geleentheid."
Die geleentheid is nie net tot voordeel van die atlete nie. Na raming kry George 'n ekonomiese inspuiting van minstens R650 000 met die geleentheid. Dit is byvoorbeeld geld bestee aan brandstof en verblyfkoste.
Die organiseerders benodig sowat 500 vrywilligers om te help. Vir meer inligting besoek die webtuiste: georgeocc.co.za
The Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC) will take on 15 February as planned. This was confirmed by Alewijn Dippenaar, the event director. There was till recently uncertainty if the event will go ahead because of money and sponsorships. That has in the meantime been clarified.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'