By die hekkie van hul huis aan die soom van Pacaltsdorp, stroom daar die laaste vier jaar drie keer 'n week (en soms sommer tussenin ook) rofweg 160 kinders in wat ná skool uitsien na 'n bakkie sop of pap van Ant Griet.
Haar sopkombuis is geregistreer by die ACVV vanwaar sy maandeliks bestanddele vir sop ontvang. Griet is ook baie dankbaar vir weeklikse sopbene van Mr Meat.
Die behoefte is egter so groot dat Griet en Nicklaas heelwat van hul pensioengeld terugploeg in die groeiende kinders se ontwikkeling.
Griet, wat vir 18 jaar by Pacaltsdorp Hoër as skoonmaker gewerk het, sê dat sy ná haar aftrede vir die Here gevra het om haar te stuur in ‘n rigting waarin sy benodig word.
"Ek het gedink óf ‘n crèche óf ‘n sopkombuis, toe wys die Here vir my dit moet ‘n sopkombuis wees," sê Griet, wat sonder om te skroom vertel dat sy vir die Here werk.
Vir haar is dit die grootste plesier as ‘n kleintjie verby die huis loop en skree: "Ant Griet, die sop was lekker!"
Heelwat siek mense kom ook weekliks by Griet sop haal. In haar span werk daar vier vroue, waaronder die bejaarde Antie Deli Linden.
Griet se wenslys
Griet het brood só brood nodig om so ’n ekstra ronding aan die kinders se magies te gee.
Sy het al vele bakkerye genader, maar almal soek ‘n NPO-nommer en sy is nie seker hoe om te registreer nie.
Melk, groente en vrugte sal ook baie welkom wees.
Dan hoop Griet om eendag ‘n afdakkie te kan bou vir wanneer die kinders sop in die reën kom haal. "Die een dag staan ‘n pa met ‘n babatjie en wag.
Toe hulle by ons uitkom, is die kind nat tot op die been - maar dit was sy enigste maaltyd vir die dag en hy moes maar wag," vertel Griet.
Kontak Griet of Nicklaas by 044 878 0968.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
JC Hector (9), Cado Uithaler (10) en Jerome le Roux (10) kom gereeld sop eet by Griet.
.jpg)
Griet se vyfjarige kleindogter, Kirstin Moos (middel) eet saam met 'n paar maatjies van die buurt.