Deané Barnard (6), 'n graad R-leerder aan George Preprimêr, het al haar klasmaats in die geelklas genader om te help kos insamel vir die diere by die DBV. Sakke hondkos, katkos, blikkies kos, kombersies, 'n leiband en 'n bal wat deur die geelmaatjies en 'n paar leerders uit die rooiklas ingesamel is, is Vrydag aan Lesley Welgemoed van die DBV oorhandig.
Juffrou Colette Rossouw het omtrent haar hande vol gehad (maar kla nie) met die kleinspan wat almal opgewonde was om die amptelike oorhandiging aan die DBV te maak.
Deané se trotse ma, Sharlene, het aan die George Herald gesê, dat Deané die blink idee uitgedink het. "Sy het briefies vir haar maats se ouers geskryf waarin sy gevra het dat hulle asseblief moet help om kos-donasies te gee om vir die DBV te skenk."
Dit volg nadat Deané se pa sowat 'n maand gelede 'n erg verwaarloosde kat naby sy werksplek in die veld gesien het, en besluit het om die kat huis toe te neem om vir dit te sorg. Die gemmerkat, vernoem Ginger, is nou soos 'n kind in die Barnard-gesin se huis en speel lekker saam met hul ander kat, Lulu.
Die klein diereliefhebber met die groot hart, het met 'n glimlag vertel dat sy nie wil hê diere moet honger wees nie. "Ek wil nie hê die hondjies en katjies moet doodgaan nie."
Volgens Welgemoed, poog die DBV deur middel van opvoedingsessies om die jongspan op te voed om vir diere om te gee en te sorg. "Deané se idea om kos in te samel, was 'n wonderlike idea en die toewyding van die jongspan om te help met die insameling is ongelooflik."
Enigeen wat 'n skenking wil maak, kan die DBV by 044 878 1990 kontak.
 (Large).jpg)
Deané Barnard (voor) en haar maats in die geelklas by George Preprimêr oorhandig Vrydag die kos wat hulle ingesamel het, aan Lesley Welgemoed van die DBV. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'