GEORGE NUUS - Graad 4-leerlinge van Laerskool Outeniqua het die geleentheid gehad om 'n redenaarstoespraak voor te berei en voor die klas te lewer.
Interessante onderwerpe waaronder, Afrikaans my taal, selfoontaal ensovoorts is bespreek. Nadat almal hul menings gelug het, is die 21 bestes gekies om hul toespraak in die skoolsaal te lewer.
Die senuwees het wel hier en daar geknaag, maar redenasies uit die boonste rakke is gevoer voor 'n paneel professionele beoordelaars.
Die drie wenners was Danae van Eck (eerste), Renée Badenhorst (tweede) en Mila Giliomee (derde). Danae gaan nou die geleentheid kry om haar saak by die skool se prysuitdeling te stel waar sy ook aangewys gaan word as die beste redenaar in gr. 4.
Wena du Pisanie, vakhoof Afrikaans vir die intermediêre fase, sê dit is om die gr. 4's se kommunikasievaardighede te bevorder en ten toon te stel.
"Ons het elke leerder die kans gegee om te praat. Ons bring hulle maats saam om ook hulle kommunikasievaardighede te help bevorder. Daar is kinders wat aan die begin van die jaar baie skaam leerders was, maar wat nou onder die finaliste is. Hulle praat nou met soveel selfvertroue teenoor mekaar. Ons het werklik kinders gesien wat nou blom omdat dit vir hulle lekker is om in Afrikaans te kan praat."
ARTIKEL EN FOTO: WESSEL VAN HEERDEN, GEORGE HERALD
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'