Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Danksy die ruim harte en goedgunstigheid van die George-gemeenskap en sakeondernemings, bly die deure van die Oakhurst Insurance George Arts Theatre oop.
Dit is Maandag 16 November deur Bernie Schaap, bestuurder van die teater, bevestig. Die teater kon weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls eers onlangs weer vertonings aanbied.
Dit het die teater onder groot finansiële druk geplaas en daar was in 'n stadium selfs sprake dat hulle die deure sou moes sluit.
Schaap, bygestaan deur Simoné Kleynhans, sekretaresse van die teater en Elize Britz, 'n komiteelid (bemarking) het met George Herald gepraat oor die pad vorentoe. "Ons is baie dankbaar vir die bydraes van mense. Ons deure bly vir eers oop en daar is ook onlangs 'n nuwe komitee gekies," het Schaap gesê. Die posisie van die vier personeellede is vir eers veilig en daar is nie afleggings nie.
'n Werkswinkel is ook met belanghebbendes gehou en prof. Chris de Bruyn van die Noordwes-universiteit het as fasiliteerder opgetree. Tydens die werkswinkel is onder meer leemtes bespreek en hoe dinge verbeter kan word. Daar is ook gekyk hoe die teater volhoubaar bedryf kan word
Volgens Schaap sou die deure nie kon oop bly sonder die steun van die gemeenskap nie. Daar was verskeie donasies wat gewissel het tussen R10 tot duisende rand. Sonder die R10 bydraes sou hulle nie die mas kon opkom nie.
Sy het gesê ofskoon die vernaamste rede vir die probleme Covid-19 was, was geld al voorheen ook skraps. Die teater is 'n nie-winsgewende organisasie.
Kyk 'n video hieronder:
Covid-19 het hulle geleer om anders na dinge te kyk. Al is hul deure weer oop, kan hulle steeds net 50% van die sitplekke vul. Verblydend was die reaksie van die publiek wat gewys hulle het 'n passie vir die teater.
Sy het benadruk mense is steeds welkom om betrokke te raak. Hulle hoef nie net toneel te speel nie en hulle kan ook agter die skerms help.
Vir bykomende inkomste word die teater uitverhuur vir byvoorbeeld troues en die besprekings lyk goed.
Die teater se nuwe nommer is 044 873 3938.
Vir meer inligting oor gebeure by die teater kan die teater se Facebook-blad dopgehou word.
Thanks to the help of the community and businesses the Oakhurst Insurance George Arts Theatre remains open. Recently the theatre was under financial pressure and there were even talk that it might have to close its doors. Bernie Schaap, the manager, on Monday said they are thankful for the help of the public. People made donations that differed between R10 and thousands of rand. Without the R10 donations, it would not have been possible to keep the doors open.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'