Gallery Video
GLENTANA NUUS EN VIDEO - ‘n Skeepswrak, wat reeds vir 118 jaar langs die kus in die omgewing van Glentana lê - dit is waarheen ‘n groep stappers Sondagoggend op pad was.
Sinead Hattingh van Heartbeat Adventures het hierdie roete al talle maal gestap, maar sy was verbaas om te sien dat die wrak, wat in 1902 teen die rotse beland het, tans so ver bo die sand uitsteek.
“Die sand het baie weggespoel - ‘n mens kan soveel meer van die wrak sien,” het sy gesê.
Fotogalery: Skeepswrak op Glentana
Die feit dat soveel sand verskuif is, het natuurlik ook ‘n ander implikasie vir diegene wat na die wrak wil gaan kyk. Waar ‘n mens voorheen langs die kus kon afstap na die wrak, verg dit tans ‘n bietjie meer moeite. Die stapgeselskap – waarvan die meerderheid kinders was – het sowat 3,5 ure oor rotse geklim om die stukkie geskiedenis eerstehands te beleef.
Dit was wel die moeite werd!
Wenk: Hierdie avontuur moet tydens laagwater onderneem word.
Kyk 'n video hieronder:
Hou ook jou oë oop vir ‘n massiewe grot in die rotswand aan die kuslyn, sowat 1 km van die wrak. Kristalvorming is duidelik sigbaar aan die binnekant, met water wat konstant stadig drup teen die wand van die grot.
Die wrak was oorspronklik ‘n 123 m lange struktuur (drywende dok) wat deur die Britse stoomskip, die Baralong, na Durban gesleep is. ‘n Stormwind op 30 Oktober 1902 het veroorsaak dat die tou gebreek het en die struktuur het uiteindelik teen die kus tot ruste gekom. ‘n Poging is daarna aangewend om die struktuur te red, maar het misluk.
Hou ook jou oë oop vir ‘n massiewe grot in die rotswand aan die kuslyn.