Nadia Jantjies, voormalige verkeersbeampte, en Joey Muller, voormalige wetstoepasser, is in 2008 geskors nadat hulle op verskeie klagtes van wangedrag skuldig bevind is. Hulle arbitrasieverhore is onderskeidelik einde verlede jaar (Jantjies) en verlede maand (Muller) afgehandel.
Daar is al lank bespiegelings dat die twee se skorsings verband hou met die arrestasie van Rudi Laws - die vorige burgemeester van die Eden Distriksmunisipaliteit wat in 2008 aangekeer is vir dronkbestuur - en dat dit polities gemotiveerd was.
Jantjies het Laws, wat verlede maand skuldig bevind en met R12 000 beboet is, in hegtenis geneem.
Jantjies is in haar arbitrasieverhoor skuldig bevind aan oneerlikheid.
Sy het vandeesweek gesê dat sy graag haar werk wil terughê omdat sy steeds voel haar ontslag is onregverdig. Sy meen dat die klag nie van so ‘n aard was dat dit noodwendig tot haar skorsing moes lei nie.
Verlofvorm maak verskyning
Dan was daar ook die kwessie dat sy gedros het, maar hieroor het die voorsittende beampte in die arbitrasieverhoor nie ‘n beslissing gemaak nie. Sy is tydens haar dissiplinêre verhoor hieraan skuldig bevind.
Jantjies het egter van die begin af volgehou dat sy nooit gedros het nie, maar ‘n verlofvorm ingevul het vir die vyf dae wat sy in Mei 2008 afwesig was. Die vorm is deur die vorige verkeershoof, Kenny Africa, onderteken.
Africa het dit egter in haar dissiplinêre verhoor en tydens die arbitrasieverhoor ontken. Intussen het die verlofvorm sy verskyning gemaak met Africa se handtekening daarop.
Volgens die forensiese ondersoek deur Nexus na ongerymdhede in die verkeers-afdeling en Jantjies se skorsing, is die klagtes teen haar nie behoorlik ondersoek nie en was dit ondeurdag.
Luidens die verslag is die klag rakende die verlof op ‘oneerlike bewyse/informasie’ gebaseer wat deur Rochelle Jacobs, ‘n senior verkeersamptenaar, en Africa verskaf is. Bewyse is ook tydens die dissiplinêre ondersoek weerhou.
Nexus beveel aan dat die George Munisipaliteit Jantjies se heraanstelling moet oorweeg.
Meineed-klag teen Africa
Nog ‘n aanbeveling wat gemaak word, is dat die munisipaliteit afskrifte van Kenny Africa en Jantjies se getuienis in die dissiplinêre verhoor en arbitrasieverhoor moet verkry en dat hulle kriminele klagtes teen Africa moet oorweeg vir meineed.
Volgens die verslag kon Nexus nie bevind dat die klagtes teen Muller polities gemotiveerd was, gebaseer op sy deelname aan die 2008-verkiesing nie.
Muller is tydens sy dissiplinêre verhoor onder andere skuldig bevind aan ‘n doodsdreigement wat hy teenoor Kenny Africa gemaak het.
Hulle het wel bevind dat die "prosedure wat gevolg is in die ondersoek en die klagtes wat teen hom aanhangig gemaak is, spesifiek dit wat tydens ‘n vergadering gesê is en die konteks daarvan, gebrekkig was".
Na wat verneem word het Africa beweer Muller het hom tydens ‘n vergadering voor talle ander met die dood gedreig.
Muller wag nog uitspraak af in sy arbitrasieverhoor.
Die George Herald het hom vir kommentaar gekontak, maar hy wou nie met die media praat nie.
Arbeidshof moet beslis
Mnr. André Smith, wat in sy onlangse hoedanigheid as waarnemende munisipale bestuurder op ‘n navraag gereageer het, het gesê dat Jantjies en Muller ongelukkig nie net weer deur die Raad aangestel kan word nie.
"Hersiening van die sanksie kan volgens arbeidskundiges wel deur die arbeidshof in hersiening geneem word," sê hy.
Oor die dissiplinêre prosesse teen munisipale amptenare wat vroeër vanjaar geskors is, sê hy dat hulle reeds ‘n aanklaer aangestel het wat verantwoordelik is vir die opstel van die geskorste amptenare se klagstate. Hy sal ook die verhore hanteer.
Hulle is mnre. Cecil Africa (munisipale bestuurder), Daniël Beeka (hoof van gemeenskapsveiligheid), Louis Fourie (hoof van finansies), Chris Marais (adjunkhoof van finansies) en Rochelle Jacobs (senior verkeersamptenaar).
Die vorige verkeershoof, Kenny Africa, is ook geskors, maar het intussen bedank. Hy is verlede maand aangestel as die hoof van provinsiale verkeer en werk nou in die kantoor van adv. Lennit Max, die Wes-Kaapse minister van Gemeenskapsveiligheid.
Die amptenare se skorsings hou verband met twee verslae, naamlik die verkeersverslag en ’n verslag oor ‘n rekenaarprojek.
Die verhore sal na verwagting in Junie en Julie plaasvind.
Artikel en foto's: Lizette da Silva
.jpg)
Reservis-konstabel Ashley Witbooi begelei Nadia Jantjies buite die landdroshof tydens Rudi Laws se verhoor. Sy is tydens die verhoor twee keer by haar huis aangeval en sy het ook dreigbriewe ontvang.