Die Mqhayi-gesin se lyke is Sondagmiddag omstreeks 13:00 by die ingang van die Bergkwagga Nasionale Park 25km van Cradock in die Oos-Kaap in hul motor gevind. Alles dui daarop dat polisiekonstabel Bongani Michael Mqhayi (31) sy vrou Ayanda Andrias-Mqhayi (32) en hul seuntjie en dogtertjie (8 maande) doodgeskiet het en daarna homself om die lewe gebring het.
Die Mqhayi's was onderweg na George nadat hulle die afgelope naweek tradisioneel in die huwelik bevestig is in Cradock. Hulle was reeds wettiglik getroud, maar het hul wens vervul om ook volgens hul tradisie te trou.
Ayanda was werksaam by die George-munisipaliteit se direktoraat finansies, terwyl Bongani as polisieman diens verrig het by die Parlement in Kaapstad. Hy sou op Dinsdag 1 Mei diens aanvaar het as polisieman in George om permanent by sy vrou en kinders te wees, waar hulle in Camelot Close, George-Suid 'n huis gehad het.
Lt.-kol. Sibongile Soci, polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap het Maandag gesê die omstandighede rondom die Mqhayi's se dood is nog onseker en die polisie het 'n nadoodse-ondersoekdossier geopen.
Die bestuurder van die George-munisipaliteit se kommunikasiedienste, Ilse Schoonraad, het soos volg op die gesinsmoord gereageer: "Dis met groot hartseer dat ons Maandagoggend verneem het van Ayanda Mqhayi, haar man en die tweeling se dood. Ayanda het met die finansiële state in die finansiële departement van die George-munisipaliteit gewerk. Ons denke en gebede is met haar en sy familie."
Die George Herald kon met ter perse gaan nie enige inligting verkry oor begrafnisreëlings nie.

Bongani Micheal Mqhayi (31) wat na bewering sy vrou en tweeling doodgeskiet het.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS