GEORGE NUUS - Die De Swardt-familie, Abrie en Sharon en hulle seuns Abri en Martin het verlede week van Lissabon in Portugal teruggekeer nadat hulle 355 km op die Portugese Camino van Coimbra in Portugal na Santago de Compostaella in Spanje gestap het.
Die gesin het in 2015 550 km op die Franse Camino oor die vyf noordelike provinsies van Spanje na Santiago gestap.
Hierdie keer het hulle staptog begin in die universiteitshoofstad van Portugal, Coimbra, waar 'n gevestigde universiteit reeds in 1190 ontstaan het, en vandag 42 000 studente van oor die wêreld het.
Na vier dae was hulle in Porto, die tweede grootste stad in Portugal, waar hulle 'n paar dae vakansie gehou het, voordat hulle weer die staptog na Santiago voortgesit het. Die sewende dag is hulle oor die grens van Portugal na Tui in Spanje, en na nog vyf dae het die gesin Santiago se katedraal, waar alle Camino staptogte eindig, bereik. Daarna het die De Swardts hulle compostellas (sertifikate) ontvang en vir nog vier dae by Muxia aan die noordweskus van Spanje asook in die Portugese hoofstad, Lissabon ontspan.
Die Portugese Camino wissel baie in topografie en ondervoet oppervlakte en is 'n lekker uitdaging vir enige familie. Dit is 'n ware pelgrimstog na Santiago, waar Jakobus, een van die dissipels van Christus sendingwerk gedoen het, en deur die Romeine gevang en met sy lewe betaal het.
Dit is die ideale manier vir 'n familie om saam dinge te beleef en om met mense dwarsoor die wêreld te kommunikeer. Die De Swardts het mense van 23 nasionaliteite ontmoet en heelwat nuwe vriendskappe gesluit. Abrie sê die leefstyl en geskiedenis, die kultuur en die gemeenskappe, van plase tot in dorpies en stede, is baie interessant, en die vakansie bly steeds een van die billikste oorsese reise.
Hulle lê daagliks gemiddeld net oor 20 km af, maar die afstande wissel tussen 12 km en 30 km per dag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'