Georgina Baninzi en haar man William ontferm hulle reeds vir jare oor minderbevoorregtes. Hierdie ouerpaar het 15 jaar gelede ‘n tweeling (toe 3 maande oud) aangeneem en word steeds op ‘n gereelde basis deur die welsyn gebruik om kinders tydelik te huisves.
Hulle tweeling is nou tieners en met haar liefde vir die gemeenskap het Georgina haar voelers verder uitgesteek en ‘n permanente sopkombuis begin wat drie keer ‘n week sowat 100 kinders en werklose volwassenes voed.
"Ek het hierdie sopkombuis al ‘n hele paar jaar," vertel Georgina.
"Dit is vir die kinders begin, maar ek deel ook sop uit vir die ouers wat sukkel. Daar is so baie wat of nie kan werk nie omdat hulle te oud en sieklik is, of omdat hulle net nie werk kan kry nie. Wat moet ek maak? Ek kan tog nie kyk hoe die mense om my verhonger nie."
Alhoewel Georgina een keer per maand sopmengsel van die George Munisipaliteit ontvang, is dit nie naastenby genoeg nie. Sy moet dikwels uit haar eie sak kos bykoop.
Enigeen wat haar wil help met ‘n donasie van sopbene, groente, vrugte of enige ander voedselsoort, kan Georgina skakel by 078 232 5566 of 044 875 9206.
Ou klere en huisraad kan ook gebruik word om die kinders van die buurt se lewens te verbeter.
Alfonso se storie
Die tweejarige Alfonso Baardman se ogies hang pap en sy skrale lyfie lyk soos dié van ‘n veel jonger kind.
"Hy het TB gehad, maar hy is nou gesond. Sy ma was baie siek," vertel Alfonso se pa, Piet Baardman.
Alfonso is die jongste van drie seuns. Piet is werkloos en die situasie is benard. Met my besoek aan Georgina het hy ons behoorlik agtervolg - wie weet, dalk weet ek van ‘n werkie?
"Ek kan enigiets met my hande doen, mevrou," sê hy herhaaldelik.
Sy vriend wat saam kom sop haal, is net so desperaat. Hulle kan gekontak word deur Georgina by 078 232 5566 of 044 875 9206 te skakel.
Die Jaers-gesin
Katriena Jaers het twee maande gelede na George verhuis vanaf Pretoria-Wes. Hulle het ‘n beter lewe kom soek.
Daar is ses kinders wat wissel van vyf maande tot veertien jaar, haar man is werkloos en hulle bly by familie in Parkdene.
Die baba se haaslippie moet oor ‘n maand geopereer word.
Kos en klere is ‘n luukse.
Katriena se man beskik oor ‘n swaarmotorvoertuiglisensie, maar permanente werk bly hom ontglip.
As daar iemand is wat kan help, kontak hulle deur Georgina by 078 232 5566 of 044 875 9206.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Georgina en 'n groepie kinders van Parkdene.