GEORGE NUUS - Karin Els (69), George se eie ystervrou met die sagte hart wat haar stempel subtiel in die staalbedryf in die streek afgedruk het, het finaal gegroet en die laaste eer word Saterdagoggend tydens 'n kerkdiens aan haar gebring.
Alhoewel sy in die jongste tyd baie met haar gesondheid gesukkel het, het haar dood op Dinsdag 15 Mei soos 'n skokgolf onder haar talle vriende, klante en kennisse versprei.
Karin Janse van Vuuren het as jong getroude vrou by die destydse staalhandelaars Robor in Welkom as sekretaresse begin werk en gou haar stempel in 'n hoogs kompeterende en manswêreld afgedruk. Sy het later na George verhuis en was in totaal ander bedrywe totdat Robor haar sowat 23 jaar gelede genader het om 'n tak in George te open.
Sy het, na sorgvuldige oorweging, die tak se deur met net drie personeellede geopen en die saak gaandeweg gebou tot 'n onderneming wat staalprodukte oor die hele streek versprei het.
Nadat Robor deur Steel & Pipes oorgeneem is, het die onderneming met rasse skrede vooruitgegaan en met Karin aan die stuur gegroei tot 'n reuse onderneming.
Twee van haar vier seuns, Marius en Jacques Janse van Vuuren, het later by die onderneming aangesluit en haar bygestaan toe haar taak te veel vir een persoon geword het.
Haar gesondheid het die laaste paar jaar agteruitgegaan en sy moes vir lang tye in hospitale en tuis aansterk, maar het elke keer na haar werk teruggekeer totdat haar kragte dit nie meer toegelaat het nie.
Sy is skielik in haar bed aan 'n hartaandoening oorlede en dieselfde aand nog het die nuus oor haar dood soos 'n skokgolf oor sosiale media versprei.
Daar is min, indien enige, mense in die yster- en staalindustrie in die streek wat haar nie ken nie.
Sy laat haar eggenote, Hennie Els, vier seuns en een dogter asook sewe kleinkinders agter.
Die kerkdiens vind Saterdagoggend om 12:00 in die NG Kerk Denneoord plaas.
Talle boodskappe van vertroosting en ruikers het na haar familielede gestroom met roerende boodskappe op sosiale media. Dit was 'n bewys van hoe hierdie suksesvolle sakevrou mense beïndruk het.
Verskeie sakemanne wat met gesinslede van haar gesimpatiseer het, het getuig hoe sy hulle met verdere grasie van ondergang gered het - soms moes sy uit haar eie sak betaal as haar reddingsboei nie die verwagte vrugte opgelewer het nie. Hierdie teleurstellings het sy vir haarself gehou en as "skoolgeld" beskou.
In 'n huldeblyk wat haar een seun, Jackson, op Facebook geplaas het en soortgelyk is aan die baie ander boodskappe, lees:
"A wonderful woman mother, grandma, wife, friend and human being. Watch the movie, paging it forward and you will get a glimpse of how special Karin, my mother is. Her giving had no end, in her personal and working capacity. She was a very special woman. I will strive, but most likely never achieve to be close to what she was. My dearest mother I will always love you, miss you. Rest and may God give you a kitchen with a big window over heaven's ocean to cook for our souls. Love you forever. Jackson."
Haar vriendelike gesig en veral aansteeklike skaterlag sal nog lank in haar wye vriende- en sakekring onthou word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'