Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sewe nuwe spoggerige tennisbane pryk by George-tennisklub, wat na vele jare die groot stap geneem het om hul bestaande bane op te knap.
Voorsitter Karin Deltenre het verlede Saterdagaand tydens die amptelike onthulling van hul nuwe bane gesê dat hierdie ‘n aanwins vir spelers van alle ouderdomme is.
“Dit was vir ons ‘n bekommernis met die Eden Super Six-reeks wat in Desember hier moes plaasvind. Ons het besef dat as ons bane nie in die toestand is wat deur Tennis Suid-Afrika goedgekeur sal word nie, gaan ons die toernooi verloor,” het Deltenre gesê.
“Hierdie toernooi is belangrik vir George, want met die sosiale ontwikkeling bring dit ook toerisme na die dorp. Die ouens kom speel tennis, maar dan bly hulle sommer vir twee of drie weke.”
Burgemeester Leon van Wyk het die openingsrede gelewer. Hy het klem gelê op die feit dat die onus al hoe meer op die munisipaliteit en gemeenskap gaan rus om sport te bevorder en sportvelde in stand te hou, aangesien die finansiële ondersteuning van die regering vir seker gaan krimp.
Een van die sewe bane wat opgeknap is. Foto: Michelle Pienaar
Die tennisbane by George-tennisklub is deur Premium Sports Services SA opgeknap. Hierdie projek het sowat R250 000 gekos, wat deur George-munisipaliteit gefinansier is.
Van Wyk het beklemtoon dat sportklubs regoor George ook aandag verlang, en dat gesprekke met klubs sal plaasvind. Hy het ook die belang van toernooie uitgelig, veral met die oog op sporttoerisme wat die dorp se ekonomie ‘n hupstoot gee.
VIDEO - Voorsitter Karin Deltenre en burgemeester Leon van Wyk gesels oor die projek:
Video: Michelle Pienaar
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’