Die meeste van die sowat 250 huisgesinne hier - ‘n geraamde 1 500 inwoners - het voorheen op stortingsterreine of privaat grond in Pacaltsdorp geplak.
Hulle het vandeesweek by die George Herald om hulp aangeklop in ‘n poging om die haglike omstandighede onder die soeklig te plaas.
Met die George Herald se besoek daar Maandag was die bykans 100% werkloosheidsyfer duidelik. Tienerswangerskappe is aan die orde van die dag, skoolbywoning is uiters laag en die tekens van fetale-alkoholsindroom (FAS) is op die meeste van die kindergesiggies te sien.
Behalwe die erge sosiale probleme wat die Syferfonteiners in die gesig staar, blyk dit ook of hul sanitasie ‘n gesondheidsramp is wat wag om te gebeur.
Minstens 40 persone gebruik een toilet terwyl daar sowat 20 inwoners is wat hul eie toilette het en nog die emmerstelsel gebruik.
Daar is slegs vyf waterkrane in die hele kamp en geen elektrisiteit nie.
Kateleen Tarentaal het haar verlede week boeglam geskrik vir die gekriewel in haar broek nadat sy die toilet besoek het. "My boude en bene was oortrek met maaiers," vertel sy.
‘n Ander inwoner sê hy maak glad nie meer van die toilette in die nedersetting gebruik nie. "Ek gaan grawe ‘n gat in die bos, *** daar en maak dit toe," sê hy.
Vreeslikste stank
Die George Herald het ‘n hele paar van die toilette besoek en in almal maaiers en brommers gevind. Sommige was gebreek en hul deure was geleë direk oorkant die huise se ingange. Die vreeslikste stank het meters ver om die toilette gehang.
Jakobus Heyns, ‘n gemeenskapsleier, beweer die munisipaliteit gooi nie chemikalieë in die toilettenks nie en dat hulle meer as ‘n jaar gelede leeggesuig is.
Die tenks het twee houers aan die agterkant, een vir vaste riool en die ander om vloeistowwe weg te voer.
Die inwoners is ook ongelukkig omdat die George Munisipaliteit weier om ‘n stuk grond te diens waarop hulle tans sinkplaathuisies oprig vir twee gesinne. Die gesinne moet op versoek van die munisipaliteit verskuif en moet hul houthuisies afbreek. Die plaaslike owerheid het goedkeuring gegee vir ‘n sportterrein, maar die betrokke gesinne se huise is tans op die stuk grond geleë wat vir dié terrein geïdentifiseer is.
Op die plek waar die nuwe huisies opgerig word, was daar voorheen vier septiese toilette en ‘n klein stortingsterrein. Papiere lê steeds rond en die reuke wat daar hang is ‘n duidelike bewys daarvan.
Ontstoke inwoners het Maandag gedreig om die strukture af te breek omdat hulle nie "soos varke gaan leef tussen rommel en st*&%t nie".
Hulle is egter deur die polisie, wat deur die munisipaliteit uitgeroep is, ingelig dat hulle strafregtelik vervolg sal word, sou hulle enige deel van die strukture afbreek.
Dink niks van ons
Heyns meen die munisipaliteit dink niks van hulle nie en gee nie om dat hulle in sulke haglike omstandighede leef nie.
"Adam Appels van grondbestuur het vir ons gesê ons moet tevrede wees met dit wat die munisipaliteit vir ons gee, want ons betaal nie daarvoor nie en ons het voorheen in plastiekhuise op die tiep gebly," sê Heyns.
Die munisipaliteit het blykbaar aan sommige Syferfonteiners belowe dat hulle verblyf hier tydelik sal wees en dat hulle ook huise op Erf 325 (in Pacaltsdorp) sal kry. Geen steen is egter nog op dié erf gelê nie.
Verkiesingskruisies
Baie is dit eens dat hulle in die toekoms versigtig sal wees by wie hulle met die volgende verkiesing hul kruisies sal trek. Hulle het ‘n vermoede wie hulle raadslid is, maar sê dat hulle hom nog nooit in die nedersetting gesien het nie.
"Dit sal beslis nie wees langs die name van diegene wat in weelde lewe en nie werklik omgee vir die armstes onder die armes nie," het een inwoner gesê.
Die Pacaltsdorp Polisie en gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) het verlede maand ook besoek aan die nedersetting afgelê nadat vyf moorde binne vyf maande daar gepleeg is.
Drankmisbruik in Syferfontein speel ‘n groot rol in die toename in misdaad, veral moorde, ernstige aanrandings en gesinsgeweld.
Tydens bogenoemde besoek is ‘n komitee gestig om probleme en misdaad saam met die polisie aan te spreek.
Adjudant-offisier Billy Buys van die Pacaltsdorp Polisie sê sedert die komitee gestig is, word al meer voorvalle van misdaad aan die komiteelede gerapporteer, wat die inligting aan hom deurgee.
Lees meer hier: http://www.georgeherald.com/news.aspx?id=713
Artikel en foto's: Lizette da Silva
.jpg)
‘n Kontrakteur was Maandag besig om sinkplaathuisies op te rig op grond wat die inwoners van Syferfontein meen nie geskik is vir bouwerk nie. Slegs die strukture word opgerig. Die inwoners is verantwoordelik vir ‘n vloer in die huis.