GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit kyk na die moontlikheid om elektrisiteit van onafhanklike kragprodusente te verkry. Die instansie is reeds in 'n vroeë stadium van indirekte betrokkenheid by 'n Uniondale-windplaasprojek asook by 'n moontlike sonplaas in die George-omgewing.
Dit het Dinsdag aan die lig gekom nadat vrae gevra is of die George-munisipaliteit gebruik gaan maak van 'n aankondiging van pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede verlede Donderdag, 13 Februarie.
Ramaphosa het aangekondig dat munisipaliteite in die toekoms hernubare krag direk by private produsente sal mag koop. Die voorwaarde is dat hulle finansieel goed moet presteer.
Paul Gerber, waarnemende direkteur, elektrotegniese dienste van die munisipaliteit, het in antwoord hierop gesê die Suid-Afrikaanse Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR) is aangestel om ’n studie te doen om die optimale energie-balans vir die stad te bepaal. Die studie is pas voltooi.
Die munisipaliteit verwelkom Ramaphosa se aankondiging. Gerber het bygevoeg: "Slegs tyd sal leer of dit die druk volhoubaar kan verlig.
"'n 24/7 energiebron soos Eskom kan nie met 5-6/24 energiebronne soos wind of son vergelyk word nie. Selfs 'n relatief goedkoop bron soos sonenergie sal sukkel om mededingend te wees met Eskom se dagenergie tariewe. Slegs 'n kombinasie van energiebronne (byvoorbeeld son, wind en gas) sal 'n volhoubare plaasvervanger vir Eskom-energie wees. Hierdie kombinasie (veral gas) is egter nie noodwendig goedkoop nie."
Volgens Gerber beoog die munisipaliteit om binne die jaar 'n nuwe tender uit te bring vir energie. "Dit is ons plig om die beste oplossing vir George-munisipaliteit se belastingbetalers te vind."
Hy het benadruk die munisipaliteit sal sy bes doen om te verbeter op wat hy het. Volhoubare, bekostigbare oplossings is egter minder voor die hand liggend as wat die meeste verbruikers dink.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê die instansie verwelkom ook Ramaphosa se aankondiging. Die aangeleentheid sal by 'n werksessie van die sakekamer op 19 Maart bespreek word. Dit sal bygewoon word deur sakeleiers en verteenwoordigers van die munisipaliteit, die provinsiale administrasie en Eskom. Die sakekamer soek 'n oplossing. Die vaardighede is in George beskikbaar.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het gesê die aankondiging is 'n ligpunt. "Ons verwelkom dit. Implementering is nou krities belangrik. Dit kan help met ekonomiese groei en werkskepping en dit kan ook tot voordeel wees van klein sakeondernemings."
The George-municipality has welcomed an announcement by pres. Cyril Ramaphosa that municipalities that are good financial standing to procure their own power from independent power producers. Dennis Farrell, chairperson of the George Business chamber and dr. Willie Cilliers, chairperson of the AHi Western Cape also welcomed the announcement. Farrell said the matter will be discussed at a workshop on 19 March.
'We bring you the latest George, Garden Route news'