GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit het voorlopig 'n gekwalifiseerde oudit van die Ouditeur-generaal (OG) vir die boekjaar 2017/18 ontvang. Dit is in die stadium egter nie bekend wat die finale oudit mening vir 2017/208 is nie en groter duidelikheid daaroor sal eers na die vakansie bekend wees.
Die munisipaliteit het vir die 2016/17 boekjaar 'n skoon oudit gekry - vir die sesde agtereenvolgende keer. Dit lyk egter asof 'n sewende skoon oudit die munisipaliteit kan ontwyk.
Trevor Botha, die munisipale bestuurder, het by navraag gesê die munisipaliteit het op 15 November 'n bestuursverslag met 'n lys van die OG se oudit-menings ontvang, wat daarna met die munisipaliteit se ouditkomitee gedeel is. Die munisipaliteit kon toe weer daarop reageer. Die OG was veronderstel om teen 30 November 'n finale mening uit te reik.
Die OG het egter die munisipaliteit ingelig dat die mening laat gaan wees aangesien hulle eers duidelikheid oor sekere aangeleenthede wil hê.
Verlede Woensdag is 'n finale mening van die OG aan die munisipaliteit gestuur. Na verneem word kan dit nie in dié stadium bekend gemaak word nie, omdat dit eers aan die stadsraad voorgelê moet word vir oorweging.
Dr. Adele Potgieter, voorsitter van die ouditkomitee, het by navraag gesê sy kan nie kommentaar lewer nie, want die finale verslag is nog nie bekend nie.
Andricus van der Westhuizen, DA-kiesafdelingshoof vir George en parlementslid, het gesê hy het self navraag gedoen. Hy dra nie kennis van die finale mening nie. "Ek is self angstig om dit te hoor." Volgens hom het George 'n uitsonderlike geskiedenis van finansiële voldoening. "Alle aanduidings is dat die OG sy dwarslat opgeskuif het. Dit sou nie vanselfsprekend wees dat George sy vorige status handhaaf nie." Hy het ook aangedui dat hy nie die verslag kan vooruit loop nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'