GEORGE NUUS - Elke drie jaar word hospitale herevalueer as ‘babavriendelik’ - ‘n status wat George-hospitaal al sedert 2005 dra.
'n Babavriendelike hospitaal (BVHI) is 'n globale inisiatief van die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) en UNICEF met die doelwit om elke baba die beste begin in die lewe te gee.
Dit word gedoen deur 'n omgewing te skep waar borsvoeding bemark word as die beste en eerste keuse van voeding vir die pasgebore baba.
Uit die bors of ‘n koppie
Slegs borsmelk word vir babas gegee in die neonatale eenheid by die George-hospitaal. As die moeder MIV+ is, word die borsmelk gepasteuriseer om die MI-virus te vernietig. Dit word gedoen deur 'n pasteurisasie-tegniek wat beskryf word as
Pretoria-pasteurisasie.
Die ma's word geleer om self dié pasteurisasie te doen met kastrolle en stoofplate wat deur die hospitaal voorsien word. As die MIV-positiewe ma te siek is om self melk aan haar baba te voorsien word daar gebruik gemaak van donormelk. Vandat daar nie meer gebruik gemaak word van kunsmelk nie, het derminfeksies drasties verminder by vroeggebore babas.
Koppievoeding in plaas van bottelvoeding is nog 'n aspek wat BFHI uniek maak. Vroeggebore babas met 'n lae gewig sukkel soms om aan die ma se bors te heg. Hulle raak te vinnig moeg en kan nie altyd genoeg suig om voldoende melk in te neem nie. Die babas word met 'n koppie gevoed, waar die baba hul tongetjies gebruik om die melk in te neem.
Hierdie manier van voeding word gevolg sodat tepelverwarring nie kan plaasvind nie en die oorgang na borsvoeding makliker sal wees. Omdat dit makliker is om 'n koppie skoon te maak as 'n bottel, verminder dit ook die voorkoms van diarreë. Elke ma by die George-hospitaal word ook opgelei in beginsels van higiëne en die basiese versorging van hul babas.
Kangaroe-moedersorg
Die George-hospitaal het die kangaroe-moedersorg-beginsel in 2006 geïmplimenteer. Hierdie beginsel is deur prof. Gert Kirsten, die hoof van die Tygerberg- neonatale eenheid, na Suid-Afrika gebring.
Kirsten reken daar is geen medisyne so koste-effektief soos 'n ma wat self haar baba kangaroe nie. Die grootste uitdaging is om elke ma van 'n vroeggebore baba te oortuig dat dit die beste is vir haar baba.
In die neonatale eenheid word babas van so klein as 500g gebore. Die ma word dan as ‘broeikas’ gebruik. Dit word gedoen deur die baba met slegs 'n doek en kappie op die kop tussen die ma se borste te plaas. Dié broodnodige velkontak help om die baba se liggaamstemperatuur en asemhaling te reguleer.
Voordele van kangaroe-moedersorg is dat dit lei tot 'n dramatiese verlaging van infeksies by die baba en verhoogde melkproduksie by die ma. Die kangaroe-eenheid in George-hospitaal bestaan uit vier beddens, toegerus met basiese kombuistoerusting om die ma's te leer om hul daaglikse take te verrig terwyl hulle hul babas kangaroe.
Baie babas se lewens word gered deurdat die babas sedert geboorte die volle voor-dele van borsmelk kan benut.
Ma's wat kan help om 'n ander baba 'n voorsprong in die lewe te gee deur hul oormaat moedersmelk te skenk, word vriendelik versoek om die borsmelkbank te skakel by 044 802 4457.
Die donormelk word vrywillig aan die George-hospitaal se melkbank geskenk. Die skenker gaan deur 'n basiese MIV-toets en kry basiese higiëne-opleiding. Die donormelk word sentraal gepasteuriseer en versprei.