Update
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hier in die stofstrate van Pacaltsdorp, George, het 'n jong seun groot drome gehad. Nou 'n volwasse man, leef Gregory Noble daardie drome. Hieroor is hy baie opgewonde, en veral oor sy nuutste avontuur.
Hy het 'n maand of wat gelede by die Klop-span van kykNET & kie aangesluit en het reeds sy eerste verskyning op televisie gemaak. Hy gesels uit sy ma se huis in Pacaltsdorp oor hoe wonderlik dit is, veral na al die afkeur en teleurstelling in sy loopbaan. "Ek het altyd geweet ek gaan en wil eendag op televisie wees, en het aanhou glo in my droom. Om radio-aanbieder te wees het my regtig voorberei vir wat ek nou doen."
Gregory glo dat 'n mens jouself moet voorberei vir die werk of loopbaan wat jy eendag wil doen, sodat jy slaggereed is indien jy dit kry. Vir hom is sy geloof ook belangrik, omdat hy in 'n baie sterk Christelike huis grootgeword het. Ma Cecilia Noble sê sy het vertroue in haar "Greggie", soos sy hom noem. "Ek is trots op hom en weet, omdat hy glo, dat hy okay sal wees."
Gregory het al baie projekte suksesvol aangepak soos sy sangloopbaan. En dit het ook onlangs vrugte afgewerp toe hy 'n kontrak met 'n platemaatskappy ingepalm het. Intussen werk hy as vryskutjoernalis vir 'n groot Afrikaanse poniekoerant in Kaapstad, en smee bande met kontakte net waar hy kom. Skaamheid was nog nooit 'n probleem vir Gregory nie, en sy positiewe houding kan baie aansteeklik wees.
Hy is dankbaar teenoor almal wat hom op sy pad ondersteun het en saam met hom geglo het.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Glo en dit kan gebeur
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'