Gallery
GEORGE NUUS - Vullis is aan't ophoop in woonbuurte regoor Pacaltsdorp en in ander oorwegend bruin woonbuurte in George lyk die prentjie nie juis anders nie. Hope tuinvullis, huishoudelike afval, gemors en selfs dooie diere word in oop areas gestort of sommer op die sypaadjies voor die woonhuise gelos.
Tydens 'n rit Dinsdagmiddag deur Seaview en New Dawn Park in Pacaltsdorp is talle vullishope in die woonareas gevind. Inwoners het in gesprek met die George Herald te kenne gegee dat hulle nie tevrede is met die situasie nie. Een jong man het gesê dit is veral erg as 'n karkas van 'n hond of kat op die hope gegooi word, want die reuk is onuithoudbaar.
Volgens Melonique Morris van New Dawn Park is haar grootste bekommernis die veiligheid van die kinders wat veral nou in die skoolvakansie naby of op die vullishope speel.
Ofskoon George-munisipaliteit hierdie hope voorheen op 'n gereelde basis verwyder het, wil dit voorkom of daar nou etlike weke verbygaan voordat dit verwyder word.
Volgens 'n vrou wat in Gloxiniastraat in Seaview woon, is die hope naby haar huis drie maande gelede verwyder.
Eddie Myners van Hibiscusstraat sê die storting in die stegie langs sy huis, is 'n jare lange probleem en na sy mening is dit 'n groot opvoedingstaak. "Die stank van dooie diere is onuithoudbaar en die kinders speel tussen die vullis. Ek het al gevra dat die munisipaliteit borde opsit vir mense om te sien dat hulle moet nie hier mag stort nie of die stegies toe maak, maar niks. Dis mense uit ons eie woonbuurt wat hier stort. Dit is asof daar geen trots meer is nie."
PBI-raadslid Virgill Gericke, het sy kommer oor die situasie uitgespreek. "Ek word oorval deur oproepe van inwoners van Proteapark, Pacaltsdorp, Conville en Parkdene oor vullis wat hulle wyke oorneem," het hy gesê. "Ek het gedink hierdie is 'n rusperiode vir raadslede, maar ek is nou besiger as ooit. Die PBI vra dat die DA hulle wyksraadslede aanspoor om hul moue op te rol en werk te maak van die benarde situasie in die woongebiede."
'n Groepie inwoners van New Dawn Park gesels met raadslid Virgill Gericke (regs) oor die vullishoop in Aaronsingel, terwyl Rivaldo Boesak (links, 6), Heinley van der Merwe (10) en Jeandre Maarten (7) met hulle swartsak-vliëer speel. Foto's: Michelle Pienaar
Gericke het gesê hierdie vullis wat binne die gemeenskappe ophoop is 'n gesondheidsrisiko, veral in ag genome dat dit tans skoolvakansie is en kinders bedags buite speel. Volgens Gericke is dit veral die bruin woongebiede wat hierdeur geraak word, aangesien die inwoners nie vervoer het om self die vullis na die stortingsterrein te neem nie.
Assistent mediaskakelbeampte Debra Sauer, het by navraag gesê onwettige vullisstorting vind daagliks regoor die George-munisipale gebied plaas. "Tans word slegs een JCB-vragmotor en twee wipbakvragmotors gebruik om daagliks klagtes van onwettige stortings in alle gebiede te hanteer. Daar word beoog om met die nuwe begroting nog vragmotors en wipbakvragmotors te huur om die groot taak te takel."
Volgens Sauer sal daar binnekort vier spanne wees wat daagliks in die groter George-gebied werk om die onwettige stortings skoon te maak.
'n Munisipale bord in Proteaweg, Pacaltsdorp, gee 'n ferm boodskap.
* Refuse is accumulated in residential areas in Pacaltsdorp. Garden and household refuse and even dead animals are dumped in open areas or left on the sidewalks in front of the houses. According to assistant media liaison officer Debra Sauer, the George Municipality currently has one JCB truck and two tipper trucks to deal with daily complaints of illegal dumpings in all residential areas. There are plans in place, with the new budget, to rent more trucks to tackle the mammoth task, said Sauer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'