Plaaslike boere wat noustrop trek in die droogte en sukkel om te oorleef, was in die gedagtes en gebede van die sowat 400 mense wat laat Vrydagmiddag by die Tuin-roete-dam byeengekom het om te bid vir George. Dit is tans juis húlle wat die swaarste getref word.
"Ek weet van boere wat hul werkers moes laat gaan het," vertel een. "Die Hoekwil-boere wat groot beesstoete aanhou, moet ten duurste voer aankoop - hoe lank kan hulle dit volhou?" Dit was van die ge-sprekke ná afloop van die geleentheid by die dam waar die watervlakke ontstellend laag gedaal het.
‘n Kleinhoewe-eienaar van Wildernis-hoogte, Lida Leggatt, het aangedui dat selfs die wildlewe, bokke en kleiner diertjies merkbaar aangetas is deur die droogte.
Vir die organiseerder, Tilana Lamprecht, het die geleentheid veral ook gegaan oor verootmoediging en die geestelike aspek. "Ons moet ons harte skoonmaak. Ek het gevoel dit is noodsaaklik dat daar ‘n opvolg moes wees op die George-biddag. Ek is verheug oor die reën en is vol vertroue dat ons nog meer gaan kry. Binnekort kan ons ‘n dankseggingsbyeenkoms hou," sê sy.
In ‘n droogte wat bekend staan as die ergste in 132 jaar, staan die dam tans op 22,6%. Die beklemmende vooruitsig is dat, teen die huidige verbruikingstempo, die water gaan opraak teen Februarie - tensy die bevolking drasties waterverbruik gaan verminder
Dankie
Die George Herald het by een van die oudste boere van die omgewing, Neil Robertson (83), gaan verneem wat die stand van sake is in die boeregemeenskap.
"Dis veral die jong suiwelboere tussen George en Knysna wat tans die swaarste kry. Daar word tans vragte veevoer aangery - een vrag kos al by die R60 000," vertel hy.
"Die droogte is ‘n absolute krisis. Melkboere wie se damme opgedroog he, en wat nie kan besproei nie, sal in die volgende jare nog moet afbetaal aan die lenings wat aangegaan is om die voer aan te koop."
Robertson, wat aan die westekant van die dorp boer, sê sy familie hou reënstatistiek vanaf 1926. "Dit dui daarop dat ons tans ‘n fratsjaar beleef - só droog was dit nog nooit. Ons het 400mm reën in elf maande gemeet, teenoor ‘n gemiddeld van 650mm in vorige jare. Die 28mm gemeet ná Sondagnag se goeie reën het verligting gebring, maar dit was nie voldoende om die damme vol te maak nie. Ná ‘n week is dit alles weer opgebruik.
"Namens die boeregemeenskap wil ek my dank uitspreek vir die gebede wat vir ons opgaan. Ons weet die dorp kry self ook swaar met net ses weke oor voordat die water opraak."